Twee vas ná vier se skietdood

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Twee verdagtes is in hegtenis geneem nadat drie tieners en ʼn volwassene Dinsdagaand in Kaapstad in die motor waarin hulle gesit het, doodgeskiet is.

Lt.kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het dié nuus bevestig.

Traut sê die verdagtes is onderskeidelik 27 en 34 jaar oud. “ʼn Derde verdagte, wat glo ook by die voorval betrokke was, moet nog in hegtenis geneem word, maar die polisie is op sy spoor,” sê hy.

Die voorval waarin die vier persone dood is het Dinsdagaand omstreeks 21:00 in Browns Farm in Nyanga plaasgevind. Traut het vroeër aan Maroela Media gesê die vier mense, onderskeidelik 28, 19, 13 en 12 jaar oud, het in ʼn Toyota Avanza gesit toe drie gewapende verdagtes die voertuig genader het en op hulle losgebrand het. Die aanvallers het daarna van die toneel gevlug. ʼn Vyfde slagoffer, ook ʼn kind, is tydens die aanval gewond en is na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Geen motief vir die moorde is bekend nie. Die twee verdagtes sal Maandag in die hof verskyn op vier aanklagte van moord en een van poging tot moord.

Lt.genl. KE Jula, provinsiale polisiekommissaris, sê die veiligheid van kinders sal een van die polisie se topprioriteite bly.

Traut het ʼn beroep op die publiek gedoen om Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak as hulle meer inligting het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

arel trydom ·

Is dit die nuutste metode van misdaad wat mens seker kan noem ” Drive By Shooting” wat gewoonlik met Bends verbind word of is dit net eenvoudig ” siek pret”

Wolf ·

My innige meegevoel met die mense se dood. Ai, wat word van ons land. Die outjies gaan seker so n week sit dan gaan hulle vry gelaat word sodat die polisie die saak deeglik kan ondersoek en dan sal die dosiere wegraak. Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.