Twee mans is in hegtenis geneem nadat ʼn vrou doodgeskiet is en drie kinders gewond is tydens ʼn bendeverwante-skietvoorval in Athlone in die Wes-Kaap.
Lt.kol. André Traut, woordvoerder van die polisie, sê Anne Marks (59) is in Vrydag se skietgeveg dood. “Tydens dieselfde voorval is drie kinders, onderskeidelik ses, 14 en 16 jaar oud, gewond en in die hospitaal opgeneem. Hulle was ook in die spervuur vasgevang.” Traut sê drie mans is kort na die voorval in hegtenis geneem en daar is op ʼn ongelisensieerde vuurwapen beslag gelê. “Die derde verdagte is vrygelaat aangesien hy nie met die misdaad verbind kon word nie.” Die ander twee verdagtes sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van moord en poging tot moord.