Twee vas ná week se rooftogte

mes-aanval

Argieffoto

Twee mans wat verlede week glo ʼn vrou in Claremont in Kaapstad gekaap en toe ʼn week lank persone op verskillende plekke in die stad se suidelike voorstede met messe gedreig en beroof het, is in hegtenis geneem.

“Die twee mans is Vrydag omstreeks 19:20 deur lede van die Wes-Kaapse blitspatrollie in Sawkinsweg in Mowbray in hegtenis geneem,” het kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, gesê. Hulle het in ʼn wit Peugeot 207 gery.

Die verdagtes, onderskeidelik 31 en 32 jaar oud, is gesoek in verband met ʼn reeks misdade wat in Claremont, Dieprivier en Wynberg gepleeg is.

“Die mans het op 8 Junie omstreeks 14:20 ʼn vrou in Eerste Laan in Claremont oorval en haar handsak met persoonlike items gesteel.” Hulle het met haar wit Peugeot 207 van die toneel gevlug.

ʼn Man is Dinsdag om 09:40 in Doordriftweg in Constantia deur twee onbekende mans in ʼn wit Peugeot 207 voorgekeer wat aanwysings wou hê. “Hy het vir hulle gesê hy kan hulle nie help nie, en het begin wegstap,” het Van Wyk gesê. “Toe hy by sy bestemming aankom, het hy gesien dieselfde motor hou in die oprit stil. Die passasier het uitgeklim en hom met ʼn mes gedreig. Hulle het sy skootrekenaar, selfoon en beursie gesteel voordat hulle van die toneel gevlug het.”

Die verdagtes is Woensdag om 10:15 weer in Spaarmanlaan gesien toe hulle ʼn vrou met ʼn mes gedreig en haar handsak met persoonlike items en kontant gesteel het.

“Die verdagtes, van Westlake en Grassy Park, sal Maandag in die Wynberg-landdroshof verskyn op aanklag van kaping en gewapende roof,” het hy bygevoeg.

Brig. Aaron Mlenga, bevelvoerder van die Wynberg-cluster, het die polisiebeamptes geloof vir hul pogings om die verdagtes in hegtenis te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dave ·

Sou dit nie pogings tot arrestasie noem nie maar gerealiseerde arrestasies!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.