Twee vas nadat AfriForum-werwingsoproepe uitlek

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

ʼn Pa en sy seun is in hegtenis geneem nadat hulle twee opnames van AfriForum-werwingsoproepe op die internet uitgelek het.

“Die mans is of was nie werknemers van AfriForum nie – hulle was slegs in diens van ʼn privaat kontaksentrum van wie se dienste AfriForum gebruik maak,” het Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie, Donderdag gesê. “Die pa is onlangs vir ernstige wangedrag deur die kontaksentrum afgedank en die seun het bely dat hy uit weerwraak die opnames aan sy pa verskaf het.”

Volgens Kriel is die twee opnames, wat deur die pa en seun op YouTube gelaai is, deur die kontaksentrum gebruik om dienssentrumagente op te lei. “Daar was geen ongemagtigde toegang tot ons lede se databasis nie,” het hy benadruk. “Lede kan dus gerus wees dat hulle persoonlike besonderhede veilig is.”

Kriel sê AfriForum het die inbelsentrum gekontrakteer met die opdrag dat opnames van hul eie ledewerwing nie vir die opleiding gebruik mag word nie, om die lede se besonderhede te beskerm. Die twee oproepe is deel van ‘n klein aantal oproepe wat gebruik is om dienssentrumagente op te lei.

Die organisasie het Woensdag bewus geword van die twee opnames en het dadelik stappe gedoen. Die polisie is versoek om die saak te ondersoek en IT-spesialiste is genader.

“Ons lede se inligting is veilig. Die mans beweer hulle het miljoene opnames, maar dit is nie waar nie. Ons het nie eers ʼn miljoen lede nie,” het Kriel verduidelik. “Een van die mans het skuld beken en hulle is Donderdag in hegtenis geneem. Hulle het die aand in die tronk deurgebring. Dit is ʼn bewys dat ons veiligheidsmaatreëls werk.”

Kriel sê hulle grootste erns is om lede-inligting ten alle tye te beskerm.

Hy het bygevoeg daar moet ʼn voorbeeld gemaak word van die mans, en ander maatskappye wat met inligting werk moet seker maak dat hul veiligheidsmaatreëls doeltreffend is.

“Die mans wou vrees inboesem deur aan te voer dat hulle oor al die opnames beskik en dat hulle betaal word om dit uit te lek. Dit is nie die waarheid nie,” het Kriel bygevoeg. “Twee uitgelekte opnames is egter twee te veel, en ons sal seker maak dat die reg sy gang gaan.”

Kaptein Colette Weilbach het Vrydag bevestig dat AfriForum ʼn saak teen die mans oopgemaak het. Sy sê die aanklagte teen die mans hou verband met die oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies.

Die kontaksentrum het na die voorval onderneem om die gebruik van die paar opnames vir opleiding onmiddellik te staak. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koekie thompson ·

Hoe weet ek verseker die persone wat my gekontak het is verbonde aan Afri forum en dat die geld wel na di regte kanaal gaan. Ek het ook gemeld ek is n pensionaris en dat ek maandeliks R30 aftrekorder kan bekostig toe word daar R50 geneem..mev cm thompson

Daantjie Maartens ·

Tannie Koeks,
‘K dink ons moet die ding o/soek. Hier’s skalks n affere groter as die Inligtingskandaal wat hier broei ?

Dalene ·

Neem deel aan sms veldtog teen kwotas in sport en wees verseker dat jy gebel en gevra gaan word vir maandelikse donasie. Goeie bemarking AfriForum.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.