Twee vas nadat regskantore brand

Brandbestryders Maandag buite die Raad vir die Regspraktyk se kantoor in die Pretoriase middestad. (Foto: Barry Batemen)

Drie mense, van wie twee vermeende brandstigters, is Maandagoggend na ’n hospitaal geneem nadat ’n brand by die Raad vir die Regspraktyk se kantoor in die Pretoriase middestad ontstaan het.

Twee mans, onderskeidelik 21 en 46 jaar oud, is sedertdien in hegtenis geneem op aanklagte van brandstigting en opsetlike saakbeskadiging.

Kol. Dimakatso Sello, woordvoerder van die polisie, sê die twee verdagtes het vanoggend na bewering toegang tot die gebou naby die hooggeregshof in Paul Krugerstraat verkry en eers meubels beskadig voordat hulle ’n brand gestig het.

Die Raad vir die Regspraktyk se kantoor in die Pretoriase middestad. (Foto: Barry Batemen)

Charles Mabaso, woordvoerder van Tshwane-nooddiens, sê brandbestryders is omstreeks 08:20 na die gebou ontbied.

Swaar rook het met hul aankoms uit verskeie verdiepings van die gebou getrek en daar is vasgestel dat ses kantore – twee kantore elk op die grond-, tweede en derde verdieping – aan die brand is.

Sommige mense was in dié stadium nog tussen die grond- en derde verdieping van die gebou vasgekeer.

Almal in die gebou kon egter na veiligheid gebring word en die vlamme is geblus.

Die owerhede buite die Raad vir die Regspraktyk se kantoor in die Pretoriase middestad. (Foto: Barry Batemen)

Mabaso sê paramedici het agt mense, onder wie die twee verdagtes, op die toneel behandel. Die verdagtes het albei ligte beserings opgedoen en is op die toneel behandel voordat hulle vir mediese behandeling na ’n hospitaal vervoer is.

Nog ’n persoon is vir rookinaseming behandel en na ’n hospitaal geneem terwyl ’n vierde ook vir rookinaseming behandel is, maar nie hospitaal toe is nie.

Vier ander het ook vanoggend behandeling op die toneel ontvang. Dit was egter ook nie vir diegene nodig om na ’n hospitaal te gaan nie.

Die twee verdagtes sal na bewering binnekort in die Pretoriase landdroshof verskyn.

Omstanders en polisiebeamptes Maandag buite die Raad vir die Regspraktyk se kantoor in die Pretoriase middestad. (Foto: Barry Batemen)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Anel ·

En wat is hulle verskoning? Hierdie is die land met die siekste mense, as dit mense genoem kan word. As mens nie gelukkig of jou sin kry in hierdie land nie, dan verwoes en brand jy af. In die tronk dan “demand” jy ‘n tv, ketel en wat nog! Hoe siek is dit nie!!!!

George ·

Dis omdat die lot in die tronk te veel regte het. Eks seker 40%+ van die ANC se stemme kom uit agter tralies.

Tanniepetoors ·

Ek is so moeg van mense wat goed wat daar is om hulle en ander se lewens te verbeter en te verander, verbrand en vernietig. Hoe blerrie onnosel kan jy wees?

Johann ·

Die anargis se gunsteling wapen: vuurhoutjies. Die twee gaan seker ook soos hul comrade in die Kaap weier om hof toe te gaan en ‘n ketel en TV demand?

Plotman ·

Watter berugte staats/munisipale kaper moes in die hof verskyn?

Moedeloos ·

Wonder wie se dokumente lê in daardie gebou wat vernietig moes word

Scholtz ·

Daar broei verskriklike onheilighede in daardie gebou uit en verskriklike onregmatighede word daar gepleeg. Dis te verstane dat mense die onheilighede en onregmatighede wou gaan aan die brand steek.

Christine ·

Wat gebeur daar wat jy van weet? Het jy dit al gaan aangee, of bekend gemaak? Dalk kon jy hierdie brandstigting gekeer het.

Nico ·

Hoekom kry die misdadigers gratis mediese behandeling, laat hulle self betaal vir die mediese behandeling.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.