Twee vas oor ‘afspraakdwelm’

Die pille wat in die verdagtes se besit gevind is. Foto: SAPD

Twee mans is Woensdagaand in Erasmia, noord van Centurion, in hegtenis geneem nadat hulle glo met Rohypnol, die berugte “afspraakdwelm”, in hul besit betrap is.

Konst. Tumisang Moloto, woordvoerder van die polisie, sê lede van die misdaadvoorkomingseenheid en honde-eenheid was besig met roetinepatrollie toe hulle ʼn verdagte VW Golf met twee insittendes opgemerk het.

“Hulle het die voertuig voorgekeer en deursoek. Die mans het Rohypnol in hul besit gehad en kon geen sertifikaat voorsien om te verduidelik hoekom hulle die pille byderhand het of waar hulle dit gekry het nie.”

Moloto het bevestig Rohypnol word dikwels gebruik om niksvermoedende slagoffers se drankies te dokter om hulle sodoende die teikens van misdaad te maak. Rohypnol kan verdowing, lomerigheid, euforie, geheueverlies, verwarring en spierverslapping veroorsaak.

“Die pille waarop beslag gelê is, sal vir forensiese ontleding gestuur word,” het Moloto gesê.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 21 en 24 jaar oud, sal binnekort voor die Atteridgeville-landdroshof verskyn op aanklag van dwelmbesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.