Twee vas oor bakkievrag gesteelde suurlemoene

Heelwat van die vermoedelik gesteelde suurlemoene was reeds in sakkies verpak. (Foto: SA Polisie)

Die polisie het ʼn opdraande stryd om sake te ondersoek waar gewasse van boere gesteel word en maak staat op die hulp van die gemeenskap om inligting oor misdaad en misdadige bedrywighede onder sy aandag te bring, sê kapt. Mali Govender, ʼn polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap.

Hulp uit die gemeenskap het vandeesweek dan ook gelei tot die inhegtenisneming van twee verdagtes wat glo suurlemoene uit ʼn boord in die Addo-omgewing gesteel het.

“Die polisiebeamptes het dadelik gereageer en is na die woning in Greenfields waar twee verdagtes, in hul 30’s, besig was om suurlemoene in sakke te verpak,” het Govender gesê.

Die polisie het op die huis toegeslaan na ‘n wenk van ‘n inwoner. (Foto: SA Polisie)

Altesame 40 sakke van 7 kg elk en vyf sakke van 50 kg elk was reeds gepak. Daar was ook sowat 100 kg los suurlemoene.

ʼn Kilogram suurlemoene beloop sowat R25 en die waarde van die vrugte waarop beslag gelê is, is meer as R15 000.

“Die verdagtes staan tereg op ʼn aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en verskyn later in die landdroshof,” het Govender gesê.

Die polisie sê die diefstal van gewasse het ʼn enorme uitwerking op die volhoubaarheid van boerderye en hou ʼn regstreekse gevaar vir die inkomste van die landbougemeenskap in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
piper

moet nie die produkte vanaf die sypad koop nie.

Francois Le Cochon

Opkomende boere. Hul moet erens begin.

Sêmanet

Kan motorkapers nie dalk ook so gou vasgetrek word nie?

Anel

Beloon die fluitjieblasers, dalk met vars produkte van die plaas. Dalk moedig dit ander aan om dieselfde te doen. En laat die diewe harde arbeid verrig.