Twee vas oor ‘bedrog’ by psigiatriese hospitaal op Kimberley

Die hospitaal in Kimberley. (Foto: Verskaf/ANA)

’n Voormalige hoof (65) by die departement van paaie en openbare werke in die Noord-Kaap sal Dinsdag saam met die direkteur van ’n sakeonderneming in die Kimberley-landdroshof verskyn nadat hulle van miljoene rand se bedrog by die Kimberley‑ psigiatriese hospitaal aangekla is.

Hulle word daarvan beskuldig dat hulle bedrog van R420 miljoen gepleeg het toe ʼn tender jare gelede vir die bou van dié hospitaal toegeken is. Die projek – waarvoor daar aanvanklik R290 miljoen begroot is – is in 2003 saam met die departement van paaie en openbare vervoer van stapel gestuur en bouwerk aan die hospitaal met sy 287 beddens het in 2006 begin.

Dit sou egter vir jare lank sloer nadat die tender lelik skeefgeloop het.

Volgens Nomthandazo Mnisi, woordvoerder van die Valke, is R420 miljoen destyds aan ʼn gelikwideerde kontrakteur betaal wat nie die diens kon lewer waarvoor hy aangestel is nie. Die kontrak is verbreek nadat die geld reeds betaal is.

Die hospitaal het daarna vir jare in onbruik gestaan en kos die departement van gesondheid reeds veel meer as wat dit sou kos om die fasiliteit destyds op te rig.

“Amptenare het nie verkrygingsprosedures gevolg toe die kontrakteur aangestel is nie,” het Mnisi Dinsdag gesê.

“Die psigiatriese hospitaal het vir jare onder wanbestuur gebuk gegaan terwyl daar aan die projek gewerk is. Daar was geen waarde vir geld nie.”

Maroela Media het vroeër berig dat die koste oor die jare tot meer R1,8 miljard gestyg het.

Die fasiliteit het sy deure eindelik in 2019 oopgemaak, maar is ʼn “monument van korrupsie” gedoop.

News24 het in 2021 berig dat die hospitaal boonop twee jaar later steeds nie ten volle funksioneel was nie – iets wat volgens die Noord-Kaapse premier in fases sou plaasvind.

ʼn Werknemer by die hospitaal het destyds aan Spotlight gesê dat die hospitaal “so goed soos dood is” en hoewel die paar pasiënte wat daar versorg word goeie behandeling kry, die departement nie geld het om nog mediese personeel aan te stel nie.

Die verdagtes is Dinsdagoggend in verband met die beweerde korrupsie aangekeer en word aangekla van oortredings van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, bedrog, korrupsie en geldwassery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sean ·

Nog n ou sakie wat jare en jare gaan neem waarvan niks gaan kom nie En dit terwyl hulle lewe soos konings

Sean ·

hulle is aangekla maar nie in die tronk nie Hahahahahaha lekker ou suid afrika

skurweberg ·

Ons is nou by ‘n “to little to late-scenario”. Dit gaan nou woes en die belastingbetalers word al hoe meer en vinniger ontnugter. Waar gaan alles eindig?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.