Twee vas oor gesteelde goed ná moord op Saasveld-plaas

Argieffoto (Foto: Shutterstock)

Twee mans is agter tralies nadat hulle betrap is met items wat vermoedelik Sondagaand op ʼn moordtoneel op ʼn plaas by Saasveld, naby George in die Wes-Kaap, gebuit is.

ʼn 37-jarige man is in die aanval dood.

Lt.kol. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, sê twee verdagtes met klapmusse  – gewapen met ʼn vuurwapen en ʼn mes – het Sondag omstreeks 22:10, kort nadat beurtkrag ingeskop het, die huis betree. Hulle het glo ʼn vrou in haar kamer oorval en daarna ook die kamer van die slagoffer se skoonouers, onderskeidelik 72 en 61 jaar oud, geplunder.

Die slagoffer het die kamer binnegekom, ʼn struweling het onstaan en die gewapende aanvallers het die man doodgeskiet, sê Pojie.

Volgens hom het die verdagtes van die toneel gevlug met ʼn swart skootrekenaar, ʼn maroen sak en twee selfone wat aan die slagoffers behoort. Speurders van George-polisie se eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad het dié items nagespoor tot by ʼn winkel naby Parkdene op George. Twee mans is Maandag daar vir die besit van vermoedelik gesteelde items in hegtenis geneem. Die polisie het ook beslag gelê op die selfone en rekenaar.

“Die twee verdagtes staan ​​tereg op aanklagte wat verband hou met die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en sal in die George-landdroshof verskyn sodra hulle aangekla word,” sê Pojie.

Lt.genl. Thembisile Patekile, provinsiale polisiehoof, het die aanval ten sterkste veroordeel en die ondersoekspan geloof vir die noukeurige ondersoekwerk wat gelei het tot die inhegtenisneming van die twee verdagtes.

Die ondersoek na die moord duur voort.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan die George-speurtak bel by 044 8034715 of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frank ·

Ek wens Eskom en die regering kan as medepligtiges aangekla word want hulle versium hulle grondwetlike verpligtinge

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.