Twee vas oor handeldryf met beskermde plante

(Foto verskaf deur SAPD Noord-Kaap)

Twee mans is Sondagoggend vroeg in Springbok in die Noord-Kaap in hegtenis geneem ná hulle met ʼn bedreigde plantspesie ter waarde van sowat R200 000 betrap is.

Brig. Mohale Ramatseba, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee verdagtes is aangekeer in ʼn gesamentlike operasie van beamptes van die Springbok-polisie se veediefstal en bedreigdespesies-eenheid, die honde-eenheid, openbareorde-polisiëring en die misdaadintelligensie-eenheid van Namakwa-polisie.

“Die twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met handeldryf met bedreigde plante. Die verdagtes is in Springbok betrap met knopieplantjies [Conophytum pageae]. Hulle is omstreeks 02:00 die oggend in Springbok aangekeer,” het Ramatseba bygevoeg.

Beamptes het beslag gelê op die Volkswagen Jetta-motor waarmee die twee mans gery het, omdat dit gebruik is vir die vervoer van bedreigde plante. Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Springbok-landdroshof verskyn.

Die polisie se ondersoek duur voort.

Volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteit-instituut (Sanbi) se Rooi Lys van Suid-Afrikaanse Plante is die knopies, of waterblasies, die mees wydverspreide spesie van die genus Conophytum. Dit kom in die suide van Namibië en in Namakwaland in Suid-Afrika voor. Knopies is dwergvetplantjies wat soos balletjies lyk wat tussen die klippe lê.

Onwettige versameling plaas geweldige druk op die spesie wat tans die mees gesoekte Conophytum is. Tussen 5 000 en 10 000 monsters is sedert Maart 2019 uit hul habitat verwyder en die koers en volume van oes neem deurgaans toe, aldus Sanbi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Elmarie ·

Seker weer spul wat dit vir sg medisinale waarde of een of ander simpel rede wil koop. Maak my siek. Als word vernietig/uitgeroei – renosters, olifante, leeus, plante… Hou so aan en niks bly oor en geen toeriste sal meer na die woestyn van niks wil kom. Toerisme is die enigste volhoubare werkskeppingsgeleentheid maar kortsigtige vernietiging van natuurskatte sal dit ook nekomdraai

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.