Twee vas oor Harmony Gold-streeksbestuurder se moord

Argieffoto

Nog twee verdagtes, onderskeidelik 27 en 35 jaar oud, is in hegtenis geneem in verband met die moord op Simphiwe Kubheka, bestuurder van Harmony Gold.

Khubeka (36) was die streeksbestuurder van die derde grootste goudmynmaatskappy in Suid-Afrika. Hy is verlede week Donderdag in sy motor doodgeskiet.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee verdagtes is Sondag in hegtenis geneem. ʼn Derde verdagte, Lehlohonolo Thethe (25), het Maandag in die hof verskyn. Hy is Vrydag in hegtenis geneem.

“Khubeka het van Tshepong-myn weggery toe hy in sy motor geskiet is,” het Makhele verduidelik. “Hy het twee skietwonde opgedoen, een in sy kop en een in sy regterarm. Hy is op die toneel dood verklaar.”

Daar is bewerings dat hy deur onwettige myners doodgeskiet is.

Al drie verdagtes sal na verwagting Woensdag in die Welkom-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leahim ·

Geen respek of vrees vir die landswette of geregsdienaars nie ,Ek dink die landswette moet geskrap word en met die tien gebooie vervang word en die strawwe met die gebruik van n oog vir n oog en n tand vir n tand.

Eish ·

Die hele Vrystaatse Goudveld is vasgevang in die greep van Mafia base wat die Zama-Zama’s beheer. Die weeklikse moordsyfers in die streek is skokkend. Jy kan n huurmoordenaar vir so min as R500 kry. Die streeksbestuurder wat vermoor is, was bekend daarvoor dat hy alles in die stryd gewerp het om onwettige mynbedrywighede te bekamp. Die plek is tans n misdaadnes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.