Twee vas oor kitsbank-ontploffing

Argieffoto (Foto: Stefano Ferrario/Pixabay)

Twee verdagtes het Maandag in die Moretele-landdroshof in Tembisa, Gauteng, verskyn op aanklag van poging tot moord en dat hulle ʼn kitsbank oopgeblaas het.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê Sicelo Gibixhegu (23) en Neo Madiba (38) bly in aanhouding totdat hulle op 17 Maart weer in die hof moet verskyn.

Die twee mans is in hegtenis geneem ná ʼn voorval wat op 5 Maart in Dikebu village, Bedwang, aangemeld is. ʼn Lid van die gemeenskap het telefonies aangemeld dat sy geweerskote en ʼn luide ontploffing naby ʼn kitsbank gehoor het. Die kitsbank is op die perseel van ʼn supermark en ʼn hardewarewinkel geleë.

“Toe polisiebeamptes by die toneel opdaag, het hulle bevind die kitsbank is oopgeblaas. ʼn Middeljarige man, wat by die kitsbank was toe die ontploffing plaasgevind het, is in die maag geskiet. Hy is na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling.”

Vier manlike verdagtes het na bewering skote gevuur en in nabygeleë bosse in gehardloop waar hulle in twee groepe verdeel het. Lede van die gemeenskap het hulle agternagesit.

“Polisiebeamptes het intussen by die soektog aangesluit en kon twee persone in hegtenis neem.”

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die gemeenskap geloof vir hul dapperheid om die polisie te help om die oortreders aan te keer. Hy sê die polisie sal nie sukses behaal om kriminele aan te keer sonder die gemeenskap se hulp nie – hulle is die oë en die ore van die polisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.