Twee vas oor Levubu-plaasmoord

Hennie Bonnema. Foto: Verskaf

Hennie Bonnema. Foto: Verskaf

Twee mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op Hennie Bonnema, die boer wat verlede week Dinsdagaand op sy plaas in die Levubu-omgewing in Limpopo vermoor is.

Ao Mokola, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig die twee mans, onderskeidelik 22 en 25 jaar oud, is in Levubu in hegtenis geneem. “Die polisie het ʼn wenk ontvang van hul informante, en die mans is in hegtenis geneem,” het hy gesê.

Die mans sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Louis Trichardt verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Bonnema (62) se bebloede liggaam is op 18 Oktober omstreeks 23:00 deur sy seun en skoondogter buite sy plaashuis gevind.

Jan Bonnema, Hennie se broer, het vroeër gesê hy het die aand by sy suster en swaer gaan eet en is omstreeks 21:30 by hulle weg. “Ons het ʼn reëling dat ons altyd mekaar laat weet as die ander een veilig by die huis is, maar Hennie het nooit laat weet hy is tuis nie,” het Jan verduidelik. Nadat Hennie nie sy telefoon geantwoord het nie, het sy suster een van sy seuns, Hendrik, gebel. Hendrik en sy vrou is na die plaas om ondersoek in te stel en het Hennie se liggaam op die trappe naby die huis aangetref.

“Die huis het ʼn heining en ʼn elektriese hek. Ons vermoed Hennie het ingery en by die motorhuis het iets hom gepla, hy het onraad vermoed. Hy het omgedraai en probeer om weer uit die erf te ry, maar voor die hek het hulle hom oorval. Hy is daar met ʼn skerp voorwerp gesteek en geslaan en is daar dood,” het Jan gesê. “Die aanvallers het vermoedelik daarna sy liggaam gesleep tot by die huis, waar hy gevind is. Dit is nou maar ʼn raaisel hoekom hulle dit gedoen het.”

Volgens Jan het die aanvallers vermoedelik Hennie se huissleutels gebruik om die agterdeur oop te sluit om toegang tot die huis te kry. Hulle het gevlug voordat enigiemand hulle gesien het. “Ons dink terwyl Hendrik by die voordeur by Hennie was, het die aanvallers by die agterdeur uitgevlug,” het Jan gesê. Dit is nog nie duidelik wat uit die huis gesteel is nie.

Hennie het saam met sy seuns, Hendrik en Pieter, met avokado’s, piesangs en makadamianeute geboer. Hy het alleen gebly nadat sy vrou, Nelia, in 2013 aan kanker oorlede is.

Jan woon op ʼn plaas ongeveer 2 km verder. Maroela Media het verlede jaar berig oor Jan en sy vrou, Elize, wat ook op hul plaas aangeval en met pangas geslaan is. Hulle is ná die aanval in die hospitaal opgeneem, maar die volgende dag weer ontslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Buitestander ·

Ons het hier voorwaar met ‘n koue oorlog te doen en word sagte teikens met die hand uitgesoek.
Wees maar waaksaam.

Johann Marx ·

Die konstitusionele “Reg tot Lewe” moet gebalanseer word met die “Reg om NIE te lewe NIE”, en jou keuse in hierdie verband moet duidelik gemaak word aan die hand van jou aksies teenoor die res van die gemeenskap. As jy 1. ‘n kind verkrag, 2. ‘n gewapende aksie beplan en uitvoer, 3. dwelms smokkel, of 4. iemand se lewe neem, behoort dit vir ‘n konstitusionele hof ‘n aanduiding te wees dat jy ‘n keuse maak om jou “reg om NIE te lewe NIE” wil uitoefen, en moet ons jou van 5 verdere eg-demokratiese keuses voorsien, nl. galg, vuurpeleton, gaskamer, elektriese stoel of dodelike inspuiting. Hierdie konsitusionele verandering antwoord elke beswaar wat die regering het waarom die “doodstraf” nie terug gebring kan word nie. Die “Reg om NIE te lewe NIE” is nie ‘n vonnis nie, dis ‘n keuse. Die voorwaardes om dit op te eis is duidelik. Niemand “veroordeel jou” en “straf jou dood” nie…..jy maak die keuse nie. As jy kies vir die “reg om te lewe” moet dan nie voldoen aan een van die vier voorwaardes wat jou die “Reg om NIE te lewe NIE” laat uitoefen. Waar is ons Konstitusionele experts?

Ek ·

Johann, dis ‘ n uitstekende voorstel, niemand kan daarteen stry nie.

Liendempers ·

Johan, uitstekende idee. Ek het een voorstel nog vir hulle keuse. Teer en Veer. In die openbaar verkieslik. Dat die ander wat moontlik gedagtes het om te loop en moor, duidelik kan sien wat sy voorland is.

Johann Marx ·

Lien, daar is GEEN afskrikmiddel om misdaad of moord te voorkom nie…selfs in lande MET die doodstraf is daar nog steeds moord. Die doodstraf is NIE bedoel as ‘n afskrikmiddel nie, dis net ‘n manier om ontslae te raak van individue wie se gedrag teenoor die samelewing so onaanvaarbaar is dat ons hulle nie langer tussen ons wil hê nie….en dit absoluut GEEN finansiële sin maak om ‘n moordenaar vir 25 jaar lank toe te sluit, teen R140/dag plus gratis medies/gym/bib, ens. nie. Oor so ‘n tydperk “belê” jy dus amper R1,8 miljoen in ‘n individu wat GEEN kans het om dit ooit aan die gemeenskap terug te gee nie….maak nie saak wat nie. Elimineer die krimineel….en spandeer R1,8 miljoen aan byboorbeeld ‘n weeskind met potensiaal….wat eendag as dokter, argitek, advokaat of wat ookal, vir die samelewing ‘n aanwins is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.