Twee vas oor Luckhoff-plaasaanval

Die Van Heerden-egpaar se gesteelde motor nadat hulle op hul plaas in Luckhoff in die Vrystaat aangeval is Foto: Verskaf

Die Van Heerden-egpaar se gesteelde motor nadat hulle op hul plaas in Luckhoff in die Vrystaat aangeval is Foto: Verskaf

Twee persone, onderskeidelik 35 en 41 jaar oud, is Saterdagaand in Kimberley in die Noord-Kaap in hegtenis geneem in verband met ʼn plaasaanval in Luckhoff in die Vrystaat.

Maroela Media het vroeër berig Rudolf van Heerden (79) sy vrou, Aletta (75), is op 26 Januarie omstreeks 09:00 op die plaas Avondsrus deur twee verdagtes oorval.

“Die egpaar was besig met hul daaglikse take op die plaas toe Aletta na die huis teruggekeer het,” het sers. Thabo Litabe, woordvoerder van die polisie, gesê. “Sy het opgemerk iets is vreemd by die huis en toe sy ingaan, het een van die mans dadelik gedreig om haar keel met ʼn skerp voorwerp af te sny.”

Die tweede aanvaller het opgedaag en die slagoffer op die grond vasgedruk en haar met ʼn tou vasgebind.

“Hulle het daarna vir Rudolf gewag om huis toe te kom. Hulle het hom aangeval en baie ernstig met ʼn koevoet aangerand terwyl hulle die kluis se sleutels en geld geëis het,” het Litabe bygevoeg. “Hulle het al die geld uit die kluis, insluitend ʼn jaggeweeg, juwele en ander waardevolle items gesteel voor hulle met die Van Heerdens se voertuig gevlug het.”

Die egpaar kon hulself loswikkel en is dadelik na Luckhoff-polisiestasie waar ʼn saak van huisroof aangemeld is. “Die polisie van Luckhoff en nabygeleë polisiestasies in die Vrystaat en die Noord-Kaap, insluitend van die boere in die omgewing, is dadelik gemobiliseer op soek na die verdagtes.”

Die egpaar se voertuig is op die grens tussen die Noord-Kaap en die Vrystaat gevind, ongeveer 35 km buite Luckhoff, waar dit van die pad afgery het.

“Die twee mans is by ʼn huis in Rodepan in Kimberley in hegtenis geneem. Hulle het van die gesteelde eiendom in hul besit gehad,” het Litabe bygevoeg.

Lt.genl. Lebeoana Tsumane, Vrystaatse polisiekommissaris, het gesê die aankeer van die verdagtes binne so kort tydjie is ʼn teken dat, “as ons saam werk, kan niemand net kom doen wat hy wil en die vrug van sy misdaad geniet nie”. “Dit moet ʼn baie duidelike bewys wees dat ons nie enige misdaad sal duld nie, veral nie teenoor bejaardes nie.”

Lees alle vorige berigte oor die Luckhoff-plaasaanval op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jan ·

Ek ken die egpaar. Hoop die 2 verdagte gemorse sit lank agter tralies

Mooi so ·

Mooi so Tsumane, mag jy ‘n tsuname wees vir rampokkers.

PMB ·

Wel gedaan aan die persone wat die boewe aangekeer het! Ons hoop net dat die stelsel die arme ou mense nie sal vaal nie?

Chris Ws ·

Die SAP het knap werk gedoen.Net jammer die hof gaan hulle lig daarvan laat afkom en so die SAP ondermyn!

Hannie ·

Verskoon my Maroela: “twee PERSONE in hegtenis geneem”, wat het geword van “vermeende moordenaars”, “boewe”, “misdadigers” ens……………. Hoe sou jy hulle beskryf het, as dit JOU ouers is, wat wreed aangeval is!!

Jean ·

Howe gaan hulle weer laat loop ..al die moeite vd polisie verniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.