Twee vas oor omkoopgeld vir elektrisiteit

Johannesburg (Foto: Stad Johannesburg)

ʼn Kontrakteur van City Power en sy medepligtige het Woensdag in die Johannesburg-landdroshof verskyn op aanklag van bedrog.

Die twee is in Rosettenville in hegtenis geneem nadat hulle glo omkoopgeld van R5 000 van ʼn inwoner in Turffontein geëis het.

Die Stad Johannesburg het gesê die verdagtes het ʼn klant genader wie se elektrisiteitsrekening agterstallig was. Hulle het gedreig om die kragtoevoer na sy huis af te skakel tensy hy die geld oorbetaal.

Die hoof verdagte is ʼn beampte van ʼn onafhanklike kontrakteur wat elektrisiteitsontkoppelingsdienste aan City Power verskaf. Sy medepligtige is ʼn lid van die publiek wat homself as ʼn beampte van City Power voorgedoen het.

Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het gesê die klant het ingestem om die omkoopgeld te betaal, maar het ondersoekbeamptes daarvan ingelig nog voor hy die geld oorhandig het. ʼn Lokval is daarna vir die mans gestel en hulle is in hegtenis geneem.

“Die verdagtes het glo 50 munisipale rekeninge van verskeie klante in hul besit gehad,” het Mashaba bygevoeg. “Dis duidelik dat hulle saam met beamptes van die stad werk wat vir hulle ʼn lys van rekeninge gee wat agterstallig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Dis omdat COJ NIE hulle rekening-probleme oplos nie, maar slegs afsny!!! Ek sal ook iemand betaal om my rekening, wat behoort +/- R28 000,00 te wees, maar R113 717,00 op my state wys, reg te stel. Maar dit gebeur eenvoudig nie. COJ ERKEN hulle is verkeerd, ek het 100de foto’s waar hulle my watermeter herhaaldelik uithaal en vervang met iemand anders se meter………..GEEN van hulle lesings maak sin nie……….ek is 6 maande lank laat betaal vir elektrisiteit NADAT ‘n “pre-paid” meter ingesit is…….en STEEDS wys my rekeningstaat dat ek R113 717,00 skuld……..en ek word gedreig met afsnyding. HOE WERK DIT??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.