Twee vas oor onwettige mynbedrywighede

Foto: SAPD/Facebook

Twee verdagtes sal na verwagting Maandag in die Orkney-landdroshof in Noordwes verskyn in verband met onwettige mynbedrywighede.

Die twee, 28 en 45 jaar oud, is Vrydag in Kanana in hegtenis geneem, het kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die Valke, gesê.

Lede van die Valke en ʼn spesiale taakspan het vroegoggend op twee eiendomme toegeslaan. Daar is by die eerste eiendom op 40 g amalgaam en nagenoeg R80 000 in kontant beslag gelê.

Die span is hierna na die tweede eiendom waar hulle op 35 g amalgaam, R43 000 in kontant en ammunisie beslag gelê het.

“Die inhegtenisneming van twee mense is dalk net ʼn druppel aan die emmer gegewe die omvang van onwettige mynaktiwiteite. Operasies wat daarop gemik is om gevestigde onwettige mynsindikate uit te wis, sal egter deurlopend verskerp word,” het Mogale gesê.

“Dit is ʼn ope geheim dat onwettige mynbou die verbinding vorm vir ander ernstige misdade, soos mensehandel met onwettige immigrante wat werk beloof word en uiteindelik uitgebuit word.”

Ondersoeke word voortgesit om die meer senior betrokkenes in die sindikate te identifiseer en om onwettige mynbou-aktiwiteite stop te sit, het Mogale gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.