Twee vas oor piramideskema van R500 miljoen

geld 4

Argieffoto.

Sandile Sibiya (29), stigter en direkteur van die beleggingsmaatskappy Supreme National Stock Holdings, en Nomalizo Sibiya (37) het Maandag vlugtig in die Pietermaritzburg-landdroshof in KwaZulu-Natal verskyn op aanklag van bedrog en die oortreding van die Bankwet.

Kapt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), het gesê die beskuldigdes het tussen Junie 2019 en November 2019 glo deposito’s ontvang van voornemende kliënte in hul maatskappy. “Die kliënte is gelok met beloftes dat hul beleggings aangewend sou word om perde en vervoerwaens te koop wat op steenkoolmyne gebruik sou word.”

Die inkomste uit die vervoer van steenkool sou glo maandelikse opbrengste lewer vir die beleggers. “Ongeveer R500 miljoen is in die maatskappy se bankrekening inbetaal, maar geen opbrengste is aan sommige van die beleggers uitbetaal nie.”

ʼn Saak van bedrog en die oortreding van die Bankwet is by die Pietermaritzburg-polisiestasie aangemeld en aan die Valke oorhandig vir verdere ondersoek. “Die twee mans is gevolglik Sondag in hegtenis geneem. Die saak is tot 10 Januarie 2020 uitgestel vir formele aansoek om borgtog.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.