Twee vas oor R10 miljoen se dwelms

(Foto: SA Polisie)

Twee verdagtes, onderskeidelik 48 en 50 jaar oud, is Maandag by die Lebombo-grenspos naby Komatipoort in Mpumalanga in hegtenis geneem in verband met dwelmmiddels met ʼn geraamde straatwaarde van R10 miljoen.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê doeanebeamptes en lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens was besig met hul gewone pligte toe ʼn wit vragmotor, van Mosambiek, by die grenspos stilgehou het om geprosesseer te word. “ʼn Roetine-soektog is uitgevoer en versteekte kompartemente is in die vragmotor en sleepwa opgemerk. Dwelmmiddels en alkohol was in die kompartemente versteek.”

ʼn Voorlopige ondersoek dui daarop dat die insittendes, ʼn man en ʼn vrou, van plan was om die dwelmmiddels, tik en heroïen, van Mosambiek na Suid-Afrika te smokkel voor hulle voorgekeer is.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris, het die beamptes geloof vir hul paraatheid.

Die verdagtes sal na verwagting Dinsdag in die Komatipoort-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van dwelmmiddels en onwettige besig van alkohol. ʼn Bykomende klag van dwelmhandel kan ook moontlik op die klagstaat bygevoeg word, het Hlathi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Cleopatra69 ·

Well done, maar hoeveel ander het hulle bribes voor gevat

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.