Twee vas oor R20 000 se verkeersboetes

Argieffoto

Argieffoto

KwaZulu-Natalse polisiebeamptes was Dinsdagoggend verbaas om te vind dat ʼn taxibestuurder en taxi-eienaar, wat weens beweerde oortreding van die Padverkeerswet in hegtenis geneem is, ook meer as R20 000 se uitstaande verkeersboetes het.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn lid van die polisie se eenheid vir ongelukbestryding was op pad werk toe, toe hy die minibus-taxi, met 14 passasiers daarin, op die R102 gewaar het. Die bestuurder van die taxi het ander voertuie by sperstrepe verbygesteek en het ook met tye in die baan vir aankomende verkeer gery in ʼn poging om die stadige verkeer in die linkerbaan te vermy.

Die polisiebeampte kon die bestuurder nie onmiddellik in hegtenis neem nie, maar het daarin geslaag om sy registrasienommer neer te skryf en na die eenheid se kantoor te stuur.

Kort daarna is die taxi in die Durbanse middestad opgespoor waar die 38-jarige bestuurder in hegtenis geneem is. ʼn Inspeksie van die voertuig het getoon dat die taxi se remme foutief is, die veiligheidsgordels nie in werkende toestand is nie en dat die voertuig olie lek. Die taxi is onmiddellik onpadwaardig verklaar.

“Daar is ook vasgestel dat die bestuurder R10 100 se uitstaande verkeersboetes teen hom het,” het Zwane gesê. “Die eienaar van die voertuig is opgespoor en is ook in hegtenis geneem in verband met die onpadwaardigheid van sy voertuig. ʼn Verdere ondersoek het getoon dat daar R10 200 se uitstaande verkeersboetes teen die taxi-eienaar is.”

Volgens Zwane is daar in die verlede al verskeie lasbriewe vir die taxi-eienaar se inhegtenisneming uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jakkalas ·

Tyd dat die wetteloosheid stop. Arresteer almal wat geen respek vir wet en orde toon. En ek “panic” oor my R125.00 boete….

Corrie ·

Goed gedoen. Dit wys daar ís wetstoepassers wat hul werk w ernstig opneem. Sluit die taxi bestuurder en die eienaar op.

Magda ·

Lasbriewe is uitgereik ai maar dit lekker in die nuwe SA ignioreer alles dit sal net verkwyn of so het hulle gedink, maar hulle is seker al lankal weer op borg uit.

LEE ·

Dis hoe dit is…elke dag. Die berig sê alles…presies nes dit is !!
Ek eis vir my lewe op my roete werk toe en terug …elke dag !

Lalla ·

Hoekom is EK nie verbaas nie. Moet my nie vertel daar is EEN taxi bestuurder wat by die padreels hou nie. Ek sal dit nooit in der ewigheid glo nie. En die ergste is, daar is verkeersbeamptes, polisie, ens wat self eienaars van taxi’s is. Dit is die rede waarom daar geen wetstoepassings vir hulle geldig is nie. Ry en maak net soos hulle wil, maak nie saak of hulle daagliks duisende ander mense se lewens in gevaar stel nie. ‘n Euwel wat maar gerus met wortel en al uitgeroei kan word.

Anie ·

Onthou, as jy op ‘n Vrydag boete langs pad kry, moet jy in polisiesel bly tot Maandag om in hof te kan verskyn. Dis nou as jy nie dadelik die boete kan betaal nie!

Mamparra ·

Anie, weet nie waar jy daai storie gehoor het en of dit maar net iets is wat jy dink nie. Net in ons buurlande is boetes dadelik betaalbaar. As dit in SA verwag word dat jy die boete dadelik betaal, is dit “bribery”. Elke boete het ‘n betaal datum op.

Andre ·

Boetes word nie behoorlik bedien nie. As dit per gewone pos gestuur word, kan hul maar vergeet. Posdienste in SA in elke geval ten gronde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.