Twee vas oor renosterhoring van SA na Hongkong

Die renosterhoring waarop beslag gelê is.

Doeanebeamptes in Hongkong het op 40 kg se renosterhoring wat van Suid-Afrika afkomstig was, beslag gelê.

Die waarde van die renosterhoring word op $8 miljoen beraam. Twee mans, 28 en 33 jaar oud, is by die Hongkongse internasionale lughawe in hegtenis geneem nadat hulle van Johannesburg af daar aangekom het. Die twee mans is volgens berigte Suid-Afrikaners.

Die renosterhoring was glo op pad na die Viëtnamese stad Ho Chi Minh. Peter Knights, hoof van die bewaringsorganisasie, WildAid, het gesê die inhegtenisneming kom kort nadat Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake, aangekondig het dat minder renosters in 2018 gestroop is.

“Om georganiseerde misdaad stop te sit moet ons die meesterbreine in Suid-Afrika en Mosambiek, sowel as die kopers in China en Viëtnam, vervolg. Die muile wat tot dusver in hegtenis geneem is, is eenvoudig nie genoeg nie.”

Volgens Knights word in die meeste gevalle van beslaglegging smokkelaars in hegtenis geneem maar nie verskaffers, meesterbreine of kopers nie.

Hongkong het verlede jaar strawwe vir die smokkel en onwettige handel in bedreigde spesies drasties verhoog. Oortreders wat bedreigde spesies invoer, uitvoer of in besit is daarvan kan ʼn boete van tot $10 miljoen en gevangenisstraf van tot 10 jaar opgelê word.

Die Suid-Afrikaanse departement van omgewingsake het vroeër die week aangekondig dat 769 renosters in 2018 gestroop is teenoor die 1 028 in 2017. Oor die afgelope dekade is nagenoeg 8 000 renosters in Suid-Afrika gestroop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Wys net hoe op en wakker ons doane is, kry sommer maklik 40 Kg renosterhoring verby hulle.

Watookal ·

Dis waar. Ek moes omtrent my hele handbagasietas uitpak op n vinnige plaaslike vlug, omdat hulle n kam in my smuktassie gesien het wat n skerppunt het. En toe konfiskeer hulle sommer n rondepunt naelskertjie ook… Maar hulle sien nie renosterhoring in kartonhouers op n internasionale vlug nie..

marco polo ·

MM, die opskrif is misleidend. Die renosterhoring was nie van SA na Hong Kong nie, maar van SA na Vietnam. Dis onderskep in Hong Kong.

Adrian ·

Hoe het die 40kg horings by tambo deurgegaan , omgekoop ?? Nou asb die 2 moet in hong kong in die tronk hul straf uitdien in sa stap hul na 6 maande uit

Gert J ·

Wonder hoe die horings verby SA doeane gekom het. Of was daar n wit koevert met geld saam?????

Afrikaner ·

Maar die regering, of eerder die minister van omgewingsake weet dan wie die skatryk groot grootmeneer in Mosambiek is, wel ons vorige minister het geweet, ook die man se naam. Hy sit daar in die dorpie Massingir vanwaar hy die kitaar slaan, maar die regering lyk dit my kom net nie sover om met Mosambiek ‘n ooreenkoms aan te gaan nie.

Ek het ‘n idee die politieke wil ontbreek by ons, seker maar om die mense wat in daardie geweste in armoede woon so effe te help. So maak die minister nou hier bo die regte geluide en dan vee sy haar hande verder af en het sy genoeg gedoen, want die man is mos glibberig en het verseker beskerming wat skrik vir niks.

Afrikaner ·

Miskien is dit Suid Afrika se bydrae soos met die uitlanders wat ons met ope arm in die land verwelkom deur ons land aan die ander beskikbaar te stel om hul werkloosheids probleem te help verlig, dalk is dit die voorloper van die Cyril se vryhandelgebied.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.