Twee vas oor renosterhoring

Foto: SAPD

ʼn Man en vrou is Sondag in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem nadat ʼn renosterhoring en dele van ʼn jaggeweer in hul besit gevind is.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê lede van ʼn nasionale taakspan wat saamgestel is om renosterstropery te beveg, was die hele Saterdagnag op soek na die verdagtes se voertuig nadat hulle inligting daaroor ontvang het.

Omstreeks 12:00 Sondag het hulle die voertuig in die Ntambanana-gebied opgemerk. “Die bestuurder, ʼn 44-jarige vrou en ʼn 33-jarige man van Hazyview in Mpumalanga is in hegtenis geneem. ʼn Renosterhoring, dele van ʼn jaggeweer en ammunisie is in die voertuig gevind,” het Naidoo gesê.

Hy het gesê die twee verdagtes sal vandag in die Ngwelezana-landdroshof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van renosterhoring en onwettige besit van ammunisie. Nog ʼn bykomende aanklag in verband met die geweeronderdele wat in hul besit gevind is, kan moontlik aanhangig gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.