“Die twee is Vrydag in hegtenis geneem nadat die polisie vervalsde note met ʼn straatwaarde van R900 tydens ʼn stop- en soekroetine ontdek het,” het ao Daniel Mavimbela, woordvoerder van die polisie, gesê. “Verdere ondersoek het die polisie na ʼn gastehuis in Malibongweweg, naby Lanseria-lughawe, gelei. Hier het die polisie ʼn verdere R14 000 in vervalsde R100-note opgespoor.”
Daar is nog geld opgespoor wat op A4- en A5-papiere gedruk is. Die polisie het ook skootrekenaars, hardeskywe, ink en ʼn drukker ontdek.
“Ons doen ʼn beroep op ondernemings en lede van die publiek om deeglik banknote te ondersoek wanneer kontanttransaksies gedoen word,” het Mavimbela gesê.
Die 35-jarige man en 24-jarige vrou sal binnekort in die Randburg-landdroshof verskyn op aanklag van die vervaardiging en besit van vervalsde geld.