Twee vas oor Vlakfontein-moorde

Die huis waar die sewe gesinslede vermoor is. Foto: Itumeleng English/ANA

Twee persone sal na verwagting Maandag in ʼn hof in Gauteng verskyn in verband met die moord op sewe persone by ʼn huis in Vlakfontein.

Maroela Media het vroeër berig Gautengse polisie is na ʼn huis in Vlakfontein, suid van Johannesburg, ontbied waar hulle op sewe ontbindende liggame afgekom het. Kapt. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê beamptes het die huis op 29 Oktober betree en in een van die vertrekke op vier hopies grond en klippe afgekom. In dié vertrek het hulle die liggame van twee vroue en twee kinders gekry. In ʼn buitevertrek het beamptes op nog ʼn vrou en nog twee kinders se liggame afgekom.

“Die twee ouer vroue was susters,” het Masondo gesê, “en die ander vrou die een se dogter. Een van die kinders was ʼn seun en die ander almal meisies. Hulle is tussen twee en 11 jaar oud.”

Hy het gesê dit lyk asof wie ook al die liggame bedek het, die grond en klippe van buite af binnetoe gebring het. Al sewe liggame was reeds aan die ontbind.

“Dis nog nie moontlik om te sê hoe hulle dood is nie; dit sal in die forensiese ondersoek bepaal word.”

Ondersoekbeamptes het ʼn deurbraak gemaak en op 1 November reageer op inligting wat die span na Mpumalanga naby die Lebombo-grenspos gelei het.

“ʼn 27-jarige man is in hegtenis geneem en bankkaarte, van twee van die oorledenes, is in sy besit gevind. Verdere ondersoek het daartoe gelei dat ʼn tweede verdagte, ʼn 61-jarige man, in Dobsonville opgespoor en in hegtenis geneem is.”

Die 27-jarige man staan ook tereg op bykomende aanklagte van verkragting. Albei sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Abe ·

MM, is daar nog geen tussentydse nuus beskikbaar oor die Stella moorde nie? Bv. of Xander se sielkundige ondersoek afgehandel is of nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.