Twee vas oor wapens en ammunisie

(Foto verskaf deur die Valke)

Twee mans is in Mpumalanga in hegtenis geneem in verband met die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) het gesê ʼn klopjag is uitgevoer ná inligting ontvang is oor ʼn huis waar onwettige vuurwapens vermoedelik gehou word. “Die span het die adres in Nelspruit besoek en twee vuurwapens en ammunisie gevind. Een van die wapens was onwettig, die ander een was gelisensieer.”

Die ongelisensieerde rewolwer is as gesteel aangemeld tydens ʼn huisroof in Mei 2018 in Nelspruit waarna Aaron Magagula (31) in hegtenis geneem is.

Vuyo Magagula (31) is intussen in Kanyamzane in hegtenis geneem as deel van die voortgesette ondersoek. “Daar is bepaal dat daar ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is vir ʼn rooftog wat in Februarie 2020 gepleeg is. Hy is dadelik in hegtenis geneem en die saak word verder ondersoek,” het Sekgotodi bygevoeg.   

Aaron het in die Nelspruit-landdroshof verskyn en is vrygelaat op borgtog van R1 000. Hy moet op 27 Julie 2020 weer in die hof verskyn.

Vuyo sal binnekort in die hof verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marius ·

R1000 borg ? Toemaar almal verstaan . Die man kan seker nie meer bekostig nie ……..

ElizeK ·

Hoekom worry SAPD nog om mense in hegtenis te neem.
Ramaphosa laat dan nou 19 000 vry.

Anel ·

Ons regsstelsel is nou net so in sy kanon in as die res van die land. Kriminele regeer. Wat is dan nou die doel van die polisie en die speurders se harde werk en dan word die misdadigers vry gelaat. Want onthou, wat van sy menseregte. Wetsgehoorsame burgers het nie mensetegte nie. Genade tog. Dat so ‘n pragtige land so vinnig in sy kanon in is. Sommer oornag!!!

Niklaas ·

Waarom tyd mors? Maak hom dadelik deel van die president se vrygelate 19000.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.