Twee vas ná vermiste Boksburg-man se lyk gevind is

Wayne Alberts

Wayne Alberts

Die polisie het bevestig dat twee verdagtes in hegtenis geneem is nadat Wayne Alberts (32), wat op 14 Februarie in Boksburg verdwyn het, dood gevind is.

Maroela Media het die naweek berig dat Alberts se liggaam gevind is. Hy het spoorloos verdwyn terwyl hy op pad was na sy ouers se huis in Boksburg. Die polisie kon egter nie oor die naweek enige besonderhede bekend maak nie.

Lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, het Maandag gesê Alberts se liggaam is reeds op 15 Maart deur ʼn veiligheidswag in ʼn veld naby die Kliprivier gevind. Sy liggaam is na ’n lykshuis geneem.

Die twee verdagtes is Vrydag in verband met die moord op Alberts in hegtenis geneem.

Leon van Lingen, Alberts se pa, het Maandag aan Maroela Media gesê hy verstaan nie hoekom hulle nou eers uitvind hul seun is dood nie. Van Lingen het gesê dit is wel beter om ná langer as ’n maand se onbeantwoorde vrae te weet waar hul seun is.

Alberts is omstreeks 21:40 op 14 Februarie in Madleystraat in Hughes, Boksburg-Noord, die laaste keer gesien. Drie mense is twee dae later in Sunnyside, Pretoria, in die motor waarmee Alberts gery het, aangekeer. Van Lingen het vroeër aan Maroela Media gesê daar was ʼn vuurwapen, dwelms en elektriese kabels in die silwer BMW. Die motor is in Van Lingen se naam geregistreer.

Kapt. Colette Weilbach, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê die drie verdagtes is in hegtenis geneem en aangekla van die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Hulle het op 18 Februarie in die hof verskyn, maar die saak is teruggetrek vir verdere ondersoek en die verdagtes is hierna vrygelaat. Die verdagtes het glo later teruggekeer na die polisie en die motor teruggeëis. Volgens Van Lingen het hulle die motor vir hul prokureur as betaling gegee.

ʼn Onbekende vrou het ook glo op 15 Februarie Alberts se selfoon geantwoord, en aan Alberts se vrou gesê hy slaap. Die foon is daarna afgeskakel.

Alberts laat sy vrou en drie dogters agter.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Wayne Alberts op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pierre Celliers ·

Woestaard gemors! (kyk gerus “woestaard” op).

jacques ·

Ek het dan gedog die poliesie het hulle gehad en toe weer vry gelaat?

Bielie ·

Die datum is nie 15 Maart nie maar 15 Februarie 2015. Ken persoonlik vir Wayne en gesin. Dit is een hartseer strorie dat so ‘n jong man in die fleur van sy lewe in die omstandighede weggeneem word. Sterkte aan Leon, Christine, Kyle en Charlene. Mag die Here vir julle krag gee in die tyd van beproewing.

Peet Schabort ·

Was dit ek wat betrap is met dwelms en ‘n onwettige vuurwapen sou ek bly sit het in die tronk. Kan nie verstaan hoe hul gelos word? Sterkte aan die familie.

Theresa ·

Gemors! Ek hoop die ergste tref julle want julle het ook nie die reg om te leef nie want julle het ‘n seun, pa en man sy reg ontneem om te lewe. Besef julle nie wat julle doen aan die slagoffers se mense nie. En nou is daar 3 dogters wat verder die lewe sonder ‘n pa moet deurgaan. Alles is so onnodig!
Sterkte aan die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.