Twee vas vir aanval op Namibië-egpaar

Argieffoto

Argieffoto

Twee verdagtes wat glo verbind kan word met die aanval en roof op Willem (70) en Alta (70) Burger by hul huis in Lüderitz, Namibië, is in hegtenis geneem.

Hannelie de Lange, die egpaar se dogter, het aan Maroela Media gesê die verdagtes is Vrydag in hegtenis geneem.

“Die polisie het op wenke gereageer en ons sal die beloning betaal soos ons onderneem het,” het De Lange gesê.

Volgens De Lange gaan die gesin en polisie alles in hul vermoë doen om druk op die hof te plaas om nie die mans op borgtog vry te laat nie. “Albei was glo voorheen in die tronk weens verskeie misdade, maar het nog elke keer uitgekom,” het sy bygevoeg.

Sy is vol lof vir die polisie en het gesê hul ondersoek was uitmuntend. “Ons is regtig trots op hulle en baie dankbaar vir die ekstra myl wat hulle vir ons geloop het.”

Oor haar ouers se gesondheid het sy gesê dit gaan goed met hulle. Alta is Vrydag in Windhoek geopereer nadat haar wangbeen tydens die aanval gebreek is.

Maroela Media het vroeër berig De Lange het ʼn beloning van N$20 000 (R20 000) uitgeloof ná die aanval op haar ouers om te help om die misdadigers aan te keer.

De Lange, wat ook in Lüderitz woon en saam met haar pa die OK Grocer besit, het vroeër gesê dit was haar pa se beurt om op 26 Junie die winkel oop te sluit. Willem is aangeval toe hy omstreeks 05:15 sy huis se motordeur oopgemaak het. Twee mans het ingestorm en hom só erg met kieries aangerand dat hy sy bewussyn verloor het.

Willem het weer sy bewussyn herwin en vir Alta, wat bo in die huis was, geskree het om die rewolwer te kry. Een van die aanvallers was egter reeds bo by haar en besig om haar ook met ʼn kierie aan te rand.

Die aanvallers het gedreig om Alta te verkrag en het haar ook met ʼn plastieksak op haar kop gebrand om haar man te dwing om die kluis oop te sluit. Die verdagtes het onder meer met vuurwapens en kontant gevlug.

Willem het erge hoofbeserings opgedoen en sy arm was geswel soos hy probeer keer het toe hulle hom met die kieries geslaan het. Alta moes ʼn spesialis spreek nadat haar kakebeen vermoedelik in die aanval gekraak of gebreek is. Albei het ook kneusplekke en ander beserings oor die res van hul lywe opgedoen.

Die polisie het reeds twee van die vuurwapens wat gesteel is, teruggekry.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bruno Stef ·

Diesulkes moet op ryswater gevoed word en in werkspanne opgedeel wat harde handearbeid verrig van oggend tot aand die(Chain gang) metode.Dit is in elk geval n meer beskaafde manier van gevangeskap as die kommunistiese metodes.Die gevangenis moet hulle kos verdien wat hulle eet.

Gideon ·

Laai hulle in die middel van die woestyn af- die son en koue sal binne 3 dae hulle kaf draf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.