Twee vas vir plaasaanval in Wolmaransstad

(Foto: Anja van der Merwe)

Twee verdagtes is in hegtenis geneem in verband met ʼn plaasaanval digby Glaudina in die Wolmaransstad-distrik in Noordwes. Boere van die omgewing het ʼn grootskaalse soektog van stapel gestuur nadat twee bejaardes die naweek op ʼn plaas aangeval is. Die verdagtes is binne ure sowat 6 km van die plaas vasgetrek.

Die verdagtes, onderskeidelik 19 en 26 jaar oud, het na bewering Sondag omstreeks 14:00 die plaas onwettig betree en voorgegee dat hulle water soek. “Hulle het eers ʼn 60-jarige plaaswerker buite die plaashuis teëgekom en met ʼn wielmoersleutel aangerand. Hulle het hom toe vasgebind,” sê kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder in Noordwes.

“Die verdagtes het daarna die 92-jarige boer by die plaashuis aangetref en oorrompel. Hulle het hom ook vasgebind en die plaashuis omgekeer. Hulle het geld en vuurwapens geëis.”

Volgens Tselanyane kon die plaaswerker intussen daarin slaag om homself los te maak en na die buurplaas te haas om hulp te ontbied. Die nuus oor die voorval het soos ʼn veldbrand onder boere van omliggende plase versprei en lede van die plaaswag was dadelik op die toneel om die verdagtes te help soek.

“Toe die verdagtes opgespoor is, is daar op die gesteelde goedere beslag gelê. Dit sluit in ʼn haelgeweer, vleis, ʼn selfoon, kleretas en geld.”

Volgens Tselanyane sal die verdagtes Dinsdag in die Wolmaransstad-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en die besit van gesteelde goedere.

Lt.genl. Sello Kwena, die Noordwes se provinsiale kommissaris, is vol lof vir die boere wat deel vorm van die plaaswag, vir hul paraatheid en vasberadenheid om die polisie te help om die verdagtes vas te trek. Hy doen ook ʼn beroep op lede van die gemeenskap om misdrywe aan te meld. “Die polisie sal nie huiwer om op te tree om te verseker dat regverdigheid geskied nie,” het Kwena gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

André ·

Ja en eersdaags is hulle op R100-00 borg uit en vedwyn in die niet.Ons weet mos nou al hoe werk dit hier.

J ·

Welgedaan Plaaswag!!!

Só maak ons mense hierdie stukkende land reg … een skelm op ‘n keer!

SomeOne ·

wat van poging tot moord, om ‘n 92 jarige persoon aan te rand is nie net aanrand nie, dis poging tot moord

Eugene ·

Sien nêrens dat die boer aangerand is nie. Hy is net oorrompel

Magda ·

Bly hulle is aangekeer en de mense is okay – maar hoelank gaan hulle sit voor borgtog gegee word en hulle doen maar net weer dit. KYK of hulle wettig hier is, as hulle nie is – geen HOF saak nie – stuur hulle net terug en verban Hulle vir 20jaar uit SA uit. as hulle wettig is HOU hulle in die tronk – GEEN BORG , ne laat hulle op daai einste PLAAS van 6 – 6 elke dag werk SONDER VERGOEDING. Kry gratis verblyf en kos en dit is hulle beloning vir hulle werk elke dag, tot hulle ontslaan word.

Scalla ·

Hulle is n klomp lafaards en gaan vir sagte teikens, hoop hul word swaar gestraf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.