Twee verdagtes is aangekeer in verband met die moord op Johanco Fleischman en Jess Kuhn in Mei verlede jaar.
Fleischman (19) en Kuhn (23) het op Putfonteinweg in Benoni sonder brandstof gaan staan toe hulle koelbloedig doodgeskiet is.
Die moorde het plaasgevind in ʼn gebied wat bekend is vir die onwettige mynbedrywighede wat daar plaasvind.
Maroela Media het vroeër berig Fleischman se bakkie het die noodlottige dag omstreeks 10:00 sonder brandstof langs die pad met hom, Kuhn en twee werkers gaan staan. Fleischman het ʼn familielid gebel om brandstof te bring waarna hulle sowat twee uur langs die pad vir dié persoon gewag het.
Die familielid was egter nie presies seker waar die bakkie gaan staan het nie en het lank in die omgewing rondgery en na hulle gesoek. Die persoon het omtrent 12:00 nog met Fleischman gepraat en gesê hy weet nou waar hulle is en dat hy op pad is.
Sowat 20 minute later het die familielid Fleischman en Kuhn se liggame op die Putfontein-wisselaar aangetref. Daar was geen teken van die werkers nie nadat hulle op die vlug geslaan het.
Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder in Gauteng, het gesê die twee verdagtes is Donderdag in ʼn intelligensiegedrewe operasie in Benoni in hegtenis geneem nadat daar die afgelope paar maande onophoudelik gewerk is om die aanvallers op te spoor.
Geen vuurwapens is egter by die twee verdagtes gevind nie. Makhubele het nie besonderhede verskaf oor hoe hulle met die moorde verbind word nie.
Hy het gesê die polisieondersoek sal ook vasstel of hulle met enige ander misdaad verbind kan word.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
5 Kommentare
Twee mooie jong lewens, so tragies. Hoekom ?
Dankie SAPD
Borg????? Gasn seker Maandag vrygelast word.
Hoog tyd
Sit hul ook voor n vuurpeloton
as ek die storie lees BLOEI MY HARt