Twee vas wat boer glo uit miljoene rande se skaap bedrieg

Die boer van Smithfield wat sy skape teruggekry het (Foto: SAPD)

Twee mans is vasgetrek nadat hulle glo miljoene rande se skaap van ʼn boer in Smithfield deur ʼn bedrieglike transaksie “gesteel” het.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, sê die twee verdagtes, onderskeidelik 34 en 40 jaar oud, is deur die polisie se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies in Wepener in hegtenis geneem. Dit volg na ’n twee maande lange intensiewe ondersoek na veediefstal wat tussen Desember en Februarie in die Vrystaat, Limpopo en Mpumalanga plaasgevind het.

“Die verdagtes het hulself as verteenwoordigers van ʼn sekere bank – wat saam met boere werk – voorgedoen. Hulle het ʼn sakeooreenkoms met ʼn boer gesluit. Hierdie ooreenkoms het 1 000 ooie en 300 ramme ter waarde van R4,9 miljoen ingesluit,” sê Makhele.

“Die boer het die ooreenkoms onderteken en 800 skape in Louis Trichardt in Limpopo gaan aflewer, soos met die bank (verdagtes) ooreengekom. Hy het begin onraad vermoed toe hy geen geld in sy bankrekening gekry het vir die skape wat hy afgelewer het nie.”

Die boer het glo die verdagtes probeer bel, maar hy kon hulle nie in die hande kry nie. Hy het daarna die bank self gebel. Die bank het hom in kennis gestel dat hulle geen ooreenkoms met hom aangegaan het nie. Hy het toe die polisie in kennis gestel.

Een van die verdagtes is in Desember in Giyani in Limpopo vasgetrek. Hy het sedertdien een keer in die hof verskyn en is op borgtog van R10 000 – met streng voorwaardes –  vrygelaat.

Die polisie se veediefstaleenheid het ook gehelp om altesaam 561 van die 800 skape op te spoor.

Die twee verdagtes het weer Maandag saam in die landdroshof in Smithfield verskyn op aanklagte van bedrog en veediefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Casper ·

Weereens was dit ‘n geval van dit klink te goed om waar te wees dan is dit nie waar nie.Jy bel eers die bank en doen navraag en as dit ‘n slenter is betrek jy die polisie.Daar is gewetenlose skurke daarbuite wat oppertunisties te werk gaan om jou ore aan te sit.Kyk maar na al die ” beleggingskemas”.

Flip ·

Stem saam Casper. Ek glo dat by MTI is ALMAL n klomp skurke en nie net Johann Steynberg nie. Al die top bestuur hoort agter tralies in die tronk te wees…..

Alet ·

Met stren voorwaardes. Wat ‘n grap. Hy is lankal besig met ‘n ander slenter.

Misky ·

Ek sou darem oproepe en navrae aan die bank gerig het voor ek net skape laai en gaan aflaai en dit so ver van Smithfield nogal. Kan jy glo en hy dit nogal gaan aflaai ook en hulle nie eens self kom laai nie. Skelms raak slinkser by die dag!!!

Genis ·

My Pa het altyd gese, jy verytrou niemand nie… Nie eers jou Pa nie…en as jy dit kan verstaan en doen, sal niemand jou inloop nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.