Twee vas wat bou van polisiestasie wou kniehalter

(Foto: SA Polisie)

Twee mans is in hegtenis geneem wat glo omkoopgeld van R100 000 van ʼn ontwikkelaar in Port Elizabeth geëis het.

Luvuyo Chippa Baadjies (39) en Simphiwe Bans Waka (45) word daarvan beskuldig dat hulle die geld geëis het van ʼn ontwikkelaar wat ʼn satellietpolisiestasie in Chatty, Bethelsdorp buite Port Elizabeth, wou bou.

“Die ontwikkelaar is glo gedwing om die geld te betaal of die konstruksie van die polisiestasie sou opgeskort word,” het brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die verdagtes het aangevoer hulle verteenwoordig ʼn sakebelang in die gemeenskap. Dit het later aan die lig gekom dat hulle die geld vir hulleself wou bekom.”

Die diensverskaffer is glo ook gedreig om nie vir enigiemand anders van die eis te vertel nie.

“ʼn Geheime operasie is op 20 Januarie 2020 omstreeks 15:30 uitgevoer. Die twee verdagtes is by die Port Elizabeth-lughawe in hegtenis geneem waar hulle die ontwikkelaar ontmoet het om die geld te ontvang.”

Die twee verdagtes staan tereg op aanklag van uitbuiting, korrupsie en bedrog. Hulle het Dinsdag in die streekhof in Port Elizabeth verskyn en bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning op 28 Januarie.

“Die ondersoek in die saak duur voort asook die mans se moontlike betrokkenheid in ander sake,” het Naidoo bygevoeg.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die inhegtenisnemings verwelkom. “Ons kan beslis nie toelaat dat misdadigers die groei en ontwikkeling van die land kniehalter nie. Indien daar nie beslissend opgetree word in só geval nie, kan dit ʼn negatiewe impak het op die ekonomiese strategie van die land.”

Verdere inhegtenisnemings word nie uitgesluit nie.

Enigiemand met soortgelyke probleme word versoek om Crime Stop te kontak by 08600 10111 of deur die MySAPS-app.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
johan

Skande,goed vir niks

Fanie du Preez

Ons word Brazil . . .PE is die grootste vrot-kol in RSA.

Piet

Dit gebeur op elke nuwe konstruksie perseel wat naby n township of community is.

maplotter

Vra R 100 000 borg

toy

maplotter ek stem saam so kry hulle die geld terug.