Twee vas wat enkelma voor dogter doodskiet

Marilize Bosman

Marilize Bosman (39) is in die vroeë oggendure van Vrydag deur inbrekers in haar huis voor haar 15-jarige dogter doodgeskiet. (Foto: Facebook)

Twee verdagtes wat verbind word met die moord op Marilize Bosman (39), ʼn enkelma van Noordwes, is Dinsdag vroegoggend in hegtenis geneem.

Maroela Media het vroeër berig die polisie het ʼn soektog van stapel gestuur nadat rowers Bosman Vrydagoggend voor haar 15-jarige dogter doodgeskiet het. Volgens die polisie is selfone geroof voordat die verdagtes gevlug en daarna nog twee huise beroof het. Die beskuldigdes het glo op dieselfde aand ook  ʼn hond doodgeskiet wat sy eienaar wou beskerm.

Phillip Otto Djan (48) en Pascal Senayah (39) is vier dae later, honderde kilometers verder, by ʼn huis in Morokweng in die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distrik, vasgetrek.

Volgens kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het die polisie inligting opgevolg wat speurders na die beskuldigdes se huis gelei het.

“Verskeie gesteelde items – wat die twee met die moord op Bosman verbind – is tydens die inhegtenisneming gevind. Items wat hulle met nog twee huisrooftogte verbind wat Vrydag in Hartbeesfontein aangemeld is, is ook teruggevind,” sê Myburgh.

Sy sê die eerste rooftog en moord is net ná middernag aangemeld toe die 39-jarige enkelma se liggaam met skietwonde in haar slaapkamer aangetref is.

“Sy en haar tienerdogter was in die huis en het gelê en slaap toe verdagtes binnegekom en op haar geskiet het. Sy het na bewering terugbaklei om haar dogter teen hulle te beskerm toe sy geskiet is.

“Nood- en reddingsdienste het Bosman op die toneel dood verklaar. Haar minderjarige dogter kon egter wegkom en het hulp by die bure gaan soek,” sê Myburgh.

“Die tweede huisroof is enkele minute later omstreeks 01:10 aangemeld. ʼn 71-jarige man en sy vrou was ook aan die slaap toe verdagtes glo by hul huis ingebreek het. Die slagoffers is met ʼn vuurwapen gedreig en opdrag gegee om op die grond te lê. Die verdagtes het onder meer geld en juweliersware gebuit. Die verdagtes het ook ʼn paar skote afgevuur wat van die vensters in die huis beskadig het.”

Volgens Myburg is die derde rooftog 20 minute later omstreeks 01:30 aangemeld.

“’n 53-jarige vrou het geslaap toe sy skielik haar honde hoor blaf. Sy is glo na buite om ondersoek in te stel, maar het teruggehardloop toe sy ʼn onbekende man in haar erf sien.

“Sy het die traliehek in die gang gesluit en haarself in haar slaapkamer toegesluit. Die verdagtes het na bewering die deure oopgebreek en die huis binnegegaan. Hulle het die vrou met ʼn vuurwapen gedreig en haar van haar skootrekenaar en selfoon beroof. Hoewel sy met ʼn vuurwapen gedreig is, het sy [fisiek] ongedeerd van die voorval afgekom.

“Sy het egter ná die voorval tot die tragiese besef gekom dat die verdagtes een van haar honde tydens die rooftog doodgeskiet het,” sê Myburgh.

Die twee beskuldigdes het Donderdag op aanklag van moord en drie aanklagte van huisroof in die Hartbeesfontein-landdroshof verskyn. Hulle bly agter tralies tot hulle Dinsdag weer in die hof verskyn.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiehoof in Noordwes, het die voorvalle veroordeel.

“Die lang arm van die gereg sal nie selektief wees nie en ook nie diegene wat hierdie misdade gepleeg het met genade behandel nie.”

Hy het die polisie vir die inhegtenisneming van die twee beskuldigdes geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Nierkie ·

Daai twee naampies is beslis nie SA burgers nie, ons huisves mos die hele Afrika se kriminele

Pierre ·

en volgende week is hulle uit op R500 borg en weg oor die sogenaamde grens.

Kabous ·

Welgedaan aan die min SAP lede wat nog hul werk doen, net jammer julle is yl gesaai en Bheki hierdie yl gesaai is beslis nie jy nie, jy is soos a rot hardloop agter die goeies aan om jou naam in ere te herstel!!

Manie ·

Ons moet eenvoudig begin reg in eie hande neem en voorbeelde maak om as afskrikmiddel te dien.

Minnie ·

As polisie patrollies gedoen was, het hierdie gevalle nooit gebeur nie.
Vandag se polisielede weier mos om footbeat patrollies te doen……dis n lui oorgewig en onkundige gemors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.