Twee vas wat gaste glo by lodge besteel

Een van die persone wat aangekeer is. (Foto: verskaf)

Twee mans is in hegtenis nadat hulle en nóg ʼn makker glo betrokke was by ʼn voorval waar ʼn Kempton Parkse gesin Maandag in die vroeë oggendure in hul blyplek by ʼn lodge naby Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo besteel is.

Die egpaar se dogter het glo wakker geword en ʼn vreemdeling in die vertrek gesien. Sy het haar ma klaarblyklik stilletjies wakker geknyp, waarna die twee saam se daaropvolgende gille ook die pa wakker gemaak het.

Die verdagte het binne-in die kamer gestaan en van die gille weggehardloop, het Johan de Beer van Heritage Protection Group (HPG) gesê.

Hy het onder meer ʼn selfoon, horlosie, klere en skoene gebuit.

Lede van HPG en Scorpion Security was kort daarna op die toneel en HPG het drie stelle spore van die Diamond Creek Bush Lodge tot naby Mookgophong gevolg.

Volgens De Beer is die eerste verdagte naby die dorp ingehaal en in hegtenis geneem. ʼn Tweede vermeende betrokkene is sowat ʼn halfuur later met die hulp van die gemeenskap en verskeie veiligheidsdienste in die omgewing aangekeer. Van die gesteelde items is by hulle gevind, het hy gesê.

Die verdagtes is aan die polisie oorhandig wat die saak verder sal ondersoek, het hy gesê. Volgens hom sal die mans se moontlike verbintenis met ander soortgelyke voorvalle ook ondersoek word.

Braam Oosthuizen, eienaar van die lodge, het die voorval betreur en gesê die betrokke gaste is ongedeerd.

“Dit is so onnodig dat só iets gebeur; mense kom hierheen om te ontspan. Dit is die eerste keer in tien jaar dat só iets hier gebeur,” het hy gesê.

Die lodge het verskeie veiligheidsmaatreëls, waaronder ʼn elektriese heining en alarmstelsels.

Die boewe het klaarblyklik onder dié heining deurgekruip en só toegang tot die perseel verkry.

Oosthuizen het gesê die veiligheidsdienste het onmiddellik gereageer en ongelooflike moeite gedoen om die vermeende diewe vas te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Anoniem ·

Knap gedaan aan almal wat betrokke was hier . Ek is so dankbasr 2 is gekry hkm ons dorp teiken. Trots op al die mense en gemeenskap !!! Dankie almal so sal ons kriminele uit ons dorp hou !!!!!

KrokodilBotha ·

Waarom is die heining dan so ?? En wat gaan die lodge nou daar aan doen ?

Jc ·

Meeste vakansie plekke en lodge’s probeer hulle plekke beveilig vir hulle gaste so goed as moontlik, meer kan hulle nie doen nie. Al bou hulle Trump se muur vir Mexico sal inbrekers nog in kom. So asb moet nie vakansie plekke wat so veilig as moontlik dit vir hulle gaste probeer maak bevraagteken nie. Hoop jou huis of waar jy ookal bly het ‘n Trump muur en 20 veiligheidsmagte om na jou te kyk. En as jy nie tevrede is met wat vakansie plekke en lodge’s doen vir hulle gaste nie, bly by die huis. Of bly stil.

HM ·

In jou slaapkamer n onbekende gas x ek gril sommer. Maar ongelukkig gebeur dit nou oral…. inbrekers. En hulle is vinnig. Gelukkig is hierdie 2 gevang.

Jacobus Krynauw ·

Wat van ‘n herberg? Is dit nou nodig om die plek ‘n ‘lodge’ te noem?

aj ·

Daar is NÓG 300 000 van dieselfde kaliber misdadigers wat op loer lê om toe te slaan.

willem botha ·

Die sa is vrot van die skelms en wat snaaks is die voorheen benadeeldes roof die huidige benaadeelde,met werksvoorkeur deur wetgewing soos Bee en swart bemagtiging wonder ek hoekom?

vertroue ? ·

INSIDE JOB: vind die waarheid uit en watter verbintenis die wat gevang is met die SKOONMAKERS het.

hercu ·

ek salueer julle HPG, ‘n groep wat nog weet hoe dit gedoen word

baie beter as sommige SAPS lede, oae, Gen Bheki Chele! of is dit vir hom ook skokkende vars nuus?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.