Twee vas wat glo 16 in taverne moor

Polisiebeamptes op die toneel in Soweto waar (10 Julie 2022) (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Twee verdagtes is vandeesweek in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by die taverne-slagting in Nomzamo in Soweto vroeër vanjaar.

Altesame 14 mense is op die dag van die skietery dood en nog twee het later aan hul beserings beswyk.

Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê beamptes van die nasionale misdaadintelligensie-eenheid het Donderdag ʼn verdagte vasgetrek.

“Die verdagte is aan Gauteng se ondersoekspan oorhandig en hy is later met die skietvoorval in Nomzamo verbind,” sê sy.

“Die verdagte het toe die ondersoekspan na een van sy medepligtiges gelei en dié is Vrydag in die Noord-Kaap in hegtenis geneem.”

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn groep mans, gewapen met AK47’s en 9 mm-pistole, op 9 Julie in die vroeë oggendure die betrokke kroeg betree en lukraak op die klante losgebrand het. Altesame 23 mense is in die voorval geskiet.

Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.

Terwyl die polisie op die verdagtes in die taverne-slagting toegeslaan het, is vier ander mans vir afsonderlike voorvalle in hegtenis geneem.

Twee verdagtes is in hegtenis geneem vir hulle beweerde betrokkenheid by ʼn voorval waar ʼn musikant van Lesotho in Oktober verlede jaar in Kliptown vermoor is.

Nog ʼn verdagte is vasgetrek wat verbind word met ʼn saak van moord en poging tot moord in Orlando vanjaar.

Terselfdertyd is ʼn vierde verdagte vasgetrek nadat ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is. Hy is glo verantwoordelik vir die dood van twee Lesotho-burgers in Doornkop verlede jaar.

Die vier mans sal na verwagting Maandag in die Orlando-landdroshof op verskeie aanklagte verskyn.

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiewoordvoerder van Gauteng, het al die inhegtenisnemings verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.