Twee vas wat glo by begrafnis losbrand

Die bakkie het deur ‘n muur gebars nadat die insittendes glo probeer wegjaag het. (Foto: SA Polisie)

Die polisie het twee mans aangekeer wat die afgelope naweek skote in die lug by ʼn begrafnis in Mpumalanga afgevuur en toe op die polisie losgebrand het.

ʼn Multidissiplinêre span bestaande uit lede van die nasionale intervensie-eenheid, die taktiese reaksie-eenheid, sigbare polisiëring en die misdaadintelligensie-eenheid het die begrafnis van Klaas Mostwadira, wat die vorige naweek doodgeskiet is, dopgehou.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê sowat 600 roubeklaers, hoofsaaklik jong mense, het die begrafnisdiens bygewoon waar sommige mense skote in die lug met pistole en gewere afgevuur het. Niemand is beseer nie.

Nadat die stoet glo die begraafplaas verlaat het, het lede van die intervensie-eenheid gesien hoe dieselfde groep mense weer skote in die lug afvuur. “Die polisielede het hulle probeer stuit, maar hulle het op die polisie losgebrand en weggejaag,” sê Mohlala.

Die polisie het ook beslag gelê op ‘n vuurwapen waarvan die reeksnommer verwyder is. (Foto: SA Polisie)

Daar was ʼn jaagtog en een van die verdagtes het beheer oor die voertuig verloor en teen ʼn muur vasgejaag waarna hulle in hegtenis geneem is.

Die polisie het beslag gelê op die voertuig, ʼn Ford Ranger Wildtrak, op ʼn pistool waarvan die reeksnommer afgevyl is, asook op ʼn leë magasyn. Die vuurwapen sal vir forensiese toetse gestuur word om te bepaal of dit in tydens die pleeg van ʼn misdryf gebruik is.

Die persoon in wie se muur die verdagtes vasgejaag het, het ook ʼn klag aanhangig gemaak, sê Mohlala.

Die twee verdagtes, ʼn 40-jarige man van Ramokgeletsana en ʼn 36-jarige verdagte van Siyabuswa, sal na verwagting Maandag in die Mdutjana-landdroshof verskyn op aanklagte wat insluit die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen, die afvuur van ʼn vuurwapen in ʼn openbare ruimte, poging tot moord, opsetlike saakbeskadiging en roekelose en nalatige bestuur.

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela het ʼn beroep op mense gedoen om nie vir geen rede skote af te vuur nie en het die “immorele gedrag en oneerbiedigheid” teenoor diegene by die begrafnis wat ʼn geliefde verloor het, betreur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Perdeby ·

MAW due 1ste keer het die SAPD niks gedoen nie, maar met die 2de voorval toe skrik hulle wakker. Is dit normaal om so by ‘n begrafnis skote af te vuur??? Daar was geen beserings nie, maar ‘n paar km verder was iemand dalk nie so gelukkig nie.

Di ·

“Sekeres” se koppe hak mos heentemal uit, moet altyd alles in oortreffende trap doen! Dis as gevolg van hierdie tipe gedrag dat ons land onregeerbaar en in so toestand is.

annie ·

Kan mens dit oorvertel… En so op ‘n begrafnis… Cele, ek haal my hoed vir jou af. Dit is die tipe begrafnis wat ‘n mens nie bywoon voor die tyd nie; eers nádat die stof gaan lê het.

Nettie ·

Dit is by n bendelid se begrafnis waar daar skote afgevuur word.

Hanna ·

600 Mense!!… Intussen mag ons net 50 mense by ‘n begrafnis wees?

Casper ·

Die pistool lyk dan vir my soos ‘n polisie vuurwapen.Hulle was moontlik verantwoordelik vir die oorlede se dood.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.