Twee vas wat glo derduisende rande se diesel steel

(Argieffoto: Bill Oxford/Unsplash)

Twee verdagtes is Woensdagaand by ʼn myn digby die Ogies-nedersetting in Mpumalanga op heterdaad betrap terwyl hulle glo besig was om diesel uit ʼn pypleiding te steel.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê die twee verdagtes, onderskeidelik 33 en 42 jaar oud, is deur lede van die Protea Coin-veiligheidsmaatskappy aangekeer.

“Daar word beweer dat ’n werknemer van die myn kop in een mus met die bestuurder van die dieselvragmotor was om die diesel uit die pypleidings te steel,” sê Sekgotodi.

Altesaam 11 425 liter diesel was reeds vanuit die pypleiding in ʼn tenk oorgetap. Die waarde van dié diesel beloop ongeveer R142 000.

’n Voorlopige ondersoek deur die Valke het aan die lig gebring dat die betrokke vragmotorbestuurder glo ook met ʼn ander saak van dieseldiefstal verbind word.

Die verdagtes sal na verwagting Vrydag in die Ogies-landdroshof verskyn.

Die ondersoek gaan intussen voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

johan ·

Hierdie is ‘n drippel in die emmer. Daar was onlangs ‘n boer se mielie land wat verspuip het van diesel diefstal uit die pyp lyn wat gemors het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.