Twee verdagtes is Woensdagaand by ʼn myn digby die Ogies-nedersetting in Mpumalanga op heterdaad betrap terwyl hulle glo besig was om diesel uit ʼn pypleiding te steel.
Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê die twee verdagtes, onderskeidelik 33 en 42 jaar oud, is deur lede van die Protea Coin-veiligheidsmaatskappy aangekeer.
“Daar word beweer dat ’n werknemer van die myn kop in een mus met die bestuurder van die dieselvragmotor was om die diesel uit die pypleidings te steel,” sê Sekgotodi.
Altesaam 11 425 liter diesel was reeds vanuit die pypleiding in ʼn tenk oorgetap. Die waarde van dié diesel beloop ongeveer R142 000.
’n Voorlopige ondersoek deur die Valke het aan die lig gebring dat die betrokke vragmotorbestuurder glo ook met ʼn ander saak van dieseldiefstal verbind word.
Die verdagtes sal na verwagting Vrydag in die Ogies-landdroshof verskyn.
Die ondersoek gaan intussen voort.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
1 Kommentaar
Hierdie is ‘n drippel in die emmer. Daar was onlangs ‘n boer se mielie land wat verspuip het van diesel diefstal uit die pyp lyn wat gemors het.