Twee vas wat glo gedurende beurtkrag op poskantoor toeslaan

(Argieffoto)

Twee verdagtes is in hegtenis geneem kort nadat ʼn gewapende rooftog vandeesweek by ʼn poskantoor in Thaba Nchu in die Vrystaat plaasgevind het.

AO Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke, het in ʼn verklaring gesê die rooftog het Woensdag omstreeks 13:00 gedurende beurtkrag plaasgevind.

Volgens Steyn was die poskantoor tydelik weens beurtkrag gesluit en klante is versoek om buite die poskantoor te wag totdat die krag weer sou aangaan.

“Twee gewapende mans het onverwags ʼn werknemer van die poskantoor buite die gebou genader. Hulle het na bewering ʼn vuurwapen op hom gerig en hom beveel om by die poskantoor in te gaan.”

Die werknemer het gehoor gegee aan die mans se versoek waarna nog verdagtes by hulle in die poskantoor aangesluit het. Die werknemer is aangesê om die kluis van die poskantoor oop te sluit terwyl van die verdagtes kontant uit die kasregister gesteel het.

Die verdagtes het ook die werknemer se selfoon by hom afgevat voordat hulle met die selfoon en ʼn onbekende bedrag geld op die vlug geslaan het.

Volgens Steyn is die polisie kort daarna van die rooftog in kennis gestel waarna drie verdagte mans in die hoofstraat van Thaba Nchu opgemerk is. Polisiebeamptes het dié mans genader, maar hulle het probeer weghardloop.

Die polisiebeamptes kon egter daarin slaag om twee van die verdagtes, onderskeidelik 24 en 25 jaar oud, in hegtenis te neem terwyl ʼn derde op die vlug geslaan het. Dié is steeds soek.

ʼn Sak met kontant en ʼn selfoon is in die aangekeerde verdagtes se besit gevind.

Hulle sal na verwagting Vrydag in die Selosesha-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marcello ·

Wat soek die werknemer buite die Poskantoor, mense wat in daardie areas werk, moet mos dink dit is moeilikheid soek om tydens beurtkrag rond te dwaal. Klink vir my soos ‘n “inside job”, want hoe het hulle geweet wie die sleutel tot die kluis het.

Jr ·

Ek het daai gevoel van ” inside job “” ook gekry toe ek die berig gelees

Diklizzy ·

Onderaan die berig staan “Oos-Kaap”, maar die rooftog was in die Vrystaat………

Megan Swart ·

Dagsê Lizan
Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die flater. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.