Twee vas wat glo peperduur omskakelaars by myn buit

Katalitiese omskakelaars ter waarde van R1,7 miljoen is by die Impala Platinum-myn gesteel. (Foto: Facebook / Impala Platinum Mine)

ʼn Werknemer van die Impala Platinum-myn en sy vermeende medepligtigde, ʼn werknemer by Bidvest Protea Coin Security, is in verband met die diefstal van R1,7 miljoen se katalitiese omskakelaars by dié myn in hegtenis geneem.

Die Valke het die verdagtes, onderskeidelik 37 en 43 jaar oud, in Rustenburg aangekeer nadat inligting ontvang is oor ʼn Bidvest Protea Coin Security-voertuig wat glo vol van dié omskakelaars gepak was.

“Die voertuig is opgespoor en by ʼn huis in Phokeng gevind waar die span die perseel, insluitend ʼn sinkhuis, deursoek het. Katalitiese omskakelaars ter waarde van R1,7 miljoen is op die perseel gevind,” het lt.kol. Tinyiko Mathebula, woordvoerder van die Valke, gesê.

“Die huurder van die sinkhuis, ʼn werknemer by Impala Platinum, is gevolglik in hegtenis geneem.”

Die tweede verdagte, wat na bewering die Bidvest-voertuig bestuur het, is in Boitekong opgespoor.

“Hy is na die toneel geneem waar hy bevestig het dat die omskakelaars by die myn gesteel is.”

Die verdagtes sal Maandag in die Tlhabane-landdroshof op aanklag van diefstal verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.