Twee vas wat glo polisiestasie beroof

Argieffoto: SAPD/Facebook

Argieffoto: SAPD/Facebook

Shimmy Joseph Makhubedi (29) en Thomas Sikhathi Sindane (42) het Donderdag in die Mokobola-landdroshof in Kwaggafontein, Mpumalanga, verskyn op aanklag van poging tot moord en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.

“Die polisie was Woensdag omstreeks 15:00 besig met roetinepatrollie in Gemsbokspruit toe hulle ʼn voertuig, ʼn wit Toyota Hilux, opgemerk het wat twee ure vroeër in Ekangala in Gauteng gekaap is, opgemerk het,” het brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, gesê.

Twee persone het in die voertuig gery en die polisiebeamptes het ondersteuning versoek terwyl hulle die mans agternagesit het.

Die KwaMhlanga-misdaadvoorkomingseenheid het vinnig reageer en by die jaagtog aangesluit.

“Die verdagtes het tydens die jaagtog die voertuig verlaat en te voet in verskillende rigtings gevlug,” het Mohlala bygevoeg. “Die polisiebeamptes het hulle ook te voet agternagesit. Die verdagtes het op die beamptes begin skiet en die polisie het teruggeskiet.”

Die beamptes wat Makhubedi agtervolg het, het hom aangesê om te stop en oor te gee, en hy het ingestem. “Hy het ʼn 9 mm Pietro Berreta in sy besit gehad waarvan die reeksnommer afgevyl is, met vier rondtes ammunisie.”

Sindane het bly hardloop en met behulp van lede van die gemeenskap is hy ook uiteindelik aangekeer. “Die polisie het beslag gelê op nog twee pistole, ʼn 9 mm Norinco met vyf rondtes ammunisie en ʼn 7.65 met sewe rondtes ammunisie.”

Die twee is na die polisiestasie geneem vir verdere ondersoek. “Tydens die ondervraging het die twee bely hulle was deel van die groep wat twee weke gelede op die Verena-polisiestasie toegeslaan het,” het Mohlala gesê.

Tydens die rooftog by die Verena-polisiestasie het agt mans twee polisiebeamptes by die gemeenskapsdienssentrum aangehou en hulle vuurwapens en persoonlike besittings gesteel.

“Die beamptes is hierna na die mans se huis vir ʼn verdere ondersoek waar hulle ʼn R5-geweer en nog ammunisie gevind het.”

ʼn Derde verdagte is Donderdag in Mamelodi in Gauteng in hegtenis geneem en die polisie het beslag gelê op ʼn vuurwapen en ammunisie.

“Die vuurwapens sal gestuur word vir ballistiese toetse om te bepaal of dit tydens enige ander misdaad gebruik is,” het Mohlala gesê. “Die verdagtes word ook verder ondersoek om te bepaal of hulle met enige ander misdade verbind kan word.”

Makhubedi en Sikhathi bly in aanhouding tot 27 Augustus waar hulle formeel sal aansoek doen om borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

liss ·

Ja!!!!!!! wat sal ons se. En dan verwag mense ek moet die manne en vroue in blou respekteer???

Lynette ·

Die polisie het diewe gearresteer. Mooi so. Hoop net hulle kry nie borgtog want dan moet hulle weer van voor af gesoek word.

Lynette ·

Die polisie het diewe gearresteer. Mooi so. Hoop hulle kry nie borgtog want dan verdwyn hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.