Twee vas wat hulle as Valke voordoen

Die voertuig en waentjie wat tydens die pleeg van die misdaad gebruik is. Foto: Maroela Media.

Die polisie in Musina naby Makhado in Limpopo het twee verdagtes, onderskeidelik 33 en 46 jaar oud, in hegtenis geneem nadat hulle glo op derduisende rande se goedere “beslag gelê” het deur voor te gee dat hulle beamptes van die Valke is.

Die verdagtes is ook aangekla van bedrog en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee verdagtes het na Limpopo gekom en beweer hulle is lede van die Valke, en dat hulle gestuur is om operasies in die Makhado-polisiëringsgebied uit te voer wat fokus op onwettige besighede en vervalste goedere.

“Hulle het Maandag by die Makhado-polisiestasie opgedaag, hulself voorgestel en bystand van die polisie versoek vir dié ‘operasies’. Die polisie het by hulle aangesluit waar die operasies in en om die sentrale gebied in Makhado uitgevoer is,” het Ngoepe gesê.

Eiendom van meer as R40 000 is tydens die operasies as vervals verklaar en op beslag gelê. “Die goedere waarop hulle beslag gelê het, is egter nie na die polisiestasie geneem nie, maar in die verdagtes se motors gelaai.”

Volgens Ngoepe het brig. Eddie van der Walt, die bevelvoerder van die betrokke polisiëringsgebied, onraad vermoed en die twee begin ondervra toe hulle die volgende dag na Musina beweeg om hul operasies voort te sit.

“Hulle kon nie die vrae bevredigend beantwoord nie en dit het gelei tot ʼn ondersoek deur die polisie wat vasgestel het dat die twee nie deel is van enige wetstoepassingseenheid in die land nie. Hulle is daarna in hegtenis geneem.”

Daar is tydens die inhegtenisneming beslag gelê op ʼn motor, ʼn waentjie, ʼn windbuks, die “vervalste” goedere waarop hulle tydens die onwettige operasie beslag gelê het en ʼn register met kontaknommers van die Limpopo-polisiestasies en -kantore

Ngoepe het gesê dié verdagtes kan moontlik met nog misdade in die provinsie verbind word.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn. Die 33-jarige verdagte sal ook aangekla word omdat hy onwettig in die land is.

Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Vra net ·

Korrespondeer die instansies nie eers met mekaar nie. Het die Valke nie ook identiteits kaarte nie. Nou raak dit erg as kriminele sommer gaan aanmeld by Polisiestasies

Kobus ·

Vir n slag het die polisie hul werk gedoen en op onwettige produkte beslag gelê. Hoekom moes persone wat hul voordoen as valke, die polisie hul werk laat. Hoop hulle gaan na die ander gebiede waarheen hulle sou gegaan het om hul werk te doen

Kat ·

Hierdie tipe ouens het dalk die Guptas gewaarsku dat hulle moet vlug?

Frikkie ·

lekker man! soos oppie TV!! Frikkie hou van TV!!!
Dis absurd om te moet aanvaar dat die’ twee daarin geslaag het om hulself voorgedoen te kry as valkies! Hoe onnosel moet n’ poeliessieman wees om vir daaaai raaid gevat te kan word!?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.