Twee vas wat Valke glo wou omkoop

Valke

Argieffoto

Twee mans is in hegtenis geneem nadat hulle ʼn ondersoekbeampte van die Valke glo met R400 000 wou omkoop.

“Die integriteit van beamptes van die Valke het weereens die toets deurstaan,” het maj. Robert Netshiunda, woordvoerder van die polisie se prioriteitsmisdaadeenheid, gesê. “Die mans is in hegtenis geneem kort nadat hulle die R400 000 in kontant aan ʼn ondersoekbeampte oorhandig het sodat hy ʼn saak teen hul vriende kon vernietig.”

Volgens Netshiunda is die drie mans verlede jaar in Durban in hegtenis geneem op aanklag van die diefstal van koffiebone ter waarde van R1,5 miljoen.

“Die twee mans het Donderdag die Valke genader wat met die forensiese laboratorium in Pietermaritzburg saamgewerk het. Hulle het ʼn ooreenkoms aangegaan dat die saak teen George Charalambus (53), Selvanathan Chetty (43) en Richard Seaman (47) vernietig sou word. Die mans is in November in hegtenis geneem,” het hy bygevoeg.

Een van die verdagtes wat glo die Valke wou omkoop, was Charalambus self, ʼn sake-eienaar in die gebied. Hy en sy drie medepligtiges is vroeër in die Durbanse landdroshof vrygelaat op borgtog van R10 000. Hy sou op 7 April 2016 weer in die hof verskyn het.

Charalambus en ʼn 50-jarige man het Vrydag in die Pietermaritzburg-landdroshof verskyn op aanklag dat hulle ʼn polisiebeampte wou omkoop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.