Twee vas weens boendoegeregtigheidsaanvalle

misdaad-polisie-crime-scene-kent-williamson-5

Argieffoto: Kent Williamson

Die Gautengse polisie het twee mans in hegtenis geneem wat na bewering Woensdag ʼn 19-jarige man erg aangerand en vermoor het.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê die slagoffer is deur ʼn groep ontstoke inwoners buite sy huis in Daveyton, Benoni, oorval, aangerand, met ʼn skerp voorwerp gesteek en geskiet. Die man is op die toneel dood.

“ʼn Spesiale taakspan is sedertdien saamgestel, waarna die twee verdagtes in hegtenis geneem is. Daar is beslag gelê op ʼn wapen wat met die moord verbind word. Die vuurwapen moet nog opgespoor word,” het Peters gesê.

Peters het gesê die polisie is nog op soek na nóg verdagtes in verband met dié moord en nog ʼn voorval waar ʼn man Woensdag ten aanskoue van leerders by ʼn skool in die omgewing lewend aan die brand gesteek het.

Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het Donderdag gesê die grusame voorval het Woensdag by die Unity Secondary School plaasgevind.

Volgens Mabona het lede van die gemeenskap ʼn vermeende bendelid na die skool geneem om aan hulle ʼn leerder uit te wys wat glo ook deel van die bende is. Nadat die leerder nie gevind kon word nie, het die man glo probeer om van die woedende skare te ontsnap. Hulle het hom gevang en ten aanskoue van leerders aangerand.

“Die gemeenskap het die man na ʼn area langs die skool gesleep, waar hulle hom verder aangerand en aan die brand gesteek het,” het Mabona gesê. “Die betrokke bende word van gruwelike misdade in Daveyton verdink, insluitend rooftogte en moorde.”

Peters het bevestig dat dié slagoffer ook 19 jaar oud is en dat die polisie ʼn saak van poging tot moord ondersoek. Peters het egter gesê foto’s wat tans op sosiale media versprei word, word nie met die voorval verbind nie en die slagoffer is deur die polisie van die woedende skare gered.

“Die man het slegs oppervlakkige brandwonde opgedoen en is tans in ʼn stabiele toestand in die hospitaal,” het Peters gesê.

Die grafiese foto’s toon hoe ʼn buiteband oor die man getrek is voordat hy aan die brand gesteek is. Op nóg ʼn foto kan gesien word hoe die man erge brandwonde oor sy hele lyf opgedoen het.

Peters het ʼn beroep op die publiek gedoen om nie spanning aan te hits deur “vals” inligting op sosiale media te versprei nie en dit as onverantwoordelik en kwaadwillig bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

PJC ·

As daar so met alle bendelede gehandel word dink ek sal bendelede meer versigtig wees om so wild en wakker op die publiek te skiet.

Colleen ·

Ek neem niemand kwalik wat reg in eie hande neem nie, want ons regstelsel faal ons daagliks. Daar is duisende moordenaars op straat wat uit die samelewing gehaal moet word.

Elizabeth Kupke ·

Laat ons nou boendoegereg toepas het ons die heelal op ons ??

Elsa ·

As boedoegeregtigheid misdaad en moorde sal laat afneem, is ek heeltemal ten gunste daarvan. Dit sal verkragters en moordenaars wel later laat besef dat hulle met hul eie lewe gaan boet vir hul misdrywe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.