Twee veghonde in Kaapstad gered

Argieffoto ter illustrasie

Argieffoto ter illustrasie

Polisiebeamptes het twee veghonde wat in Mitchells Plain vir hondebakleiery gebruik is, gered en hul eienaars beboet.

“Polisiebeamptes was in Eastridge op patrollie toe hulle verdagte bedrywighede opgemerk het,” het JP Smith, burgemeesterskomiteelid van die stad Kaapstad, Donderdag in ʼn verklaring gesê. “ʼn Groep mense het verlede week Vrydag op ʼn oop stuk veld vergader en die beamptes het ondersoek ingestel. ʼn Hondegeveg was aan die gang.”

Die polisie het die honde gered en die twee eienaars is elkeen ʼn boete van R4 600 opgelê. Die honde was ook nie by die stad geregistreer nie. “Al twee honde het sigbare wonde en littekens gehad, wat beteken dat die honde al vantevore ook in bakleiery gebruik is.”

Die honde is na die Dierebeskermingsvereniging in Grassy Park geneem. “Die polisie sal ook al die ander honde op die perseel skut. Hondegevegte is onwettig kragtens die Wet op Dierebeskerming.

“Ons dierebeskermingsbeamptes sal steeds teen die gruwelike praktyk van hondegevegte optree,” het Richard Bosman, uitvoerende direkteur van veiligheid en sekuriteit vir die stad gesê. “Ons is tans besig om goedkeuring te bekom dat die maksimum boete vir ʼn erkenning van skuld verhoog sal word na R5 000. Ons sal ook graag wil sien dat oortreders in hegtenis geneem kan word onder sekere omstandighede.”

Meer as 280 honde is reeds sedert Januarie 2014 in Kaapstad geskut na aanvalle op mense en ander diere.

Hondegevegte en ander verwante oortredings kan by die publieke noodlyn aangemeld word: skakel 107 van ʼn selfoon of 021 480 7700 van ʼn landlyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

pop ·

Pragtige diere. Kan ek hulle nie kry nie. Sal hulle oorlaai met liefde.

JanVanAfrika_II ·

Ek stem saam jou pop, ek het self Amerikaanse veghonde (Pitbull’s), en dis die mees liefdevolle honde wat ek al ooit gehad het. Als hang af hoe jy hulle groot maak. Ek het 2 katte ook, en hulle is beste vriende met my Pitbull’s (Die katte is eintlik baas).
Ek wens meer mense kan sien en ervaar watse pragtige diere hulle is

Neptunus ·

R4000 boetes is nie geld vir hierdie mense nie! Hulle behoort opgeskorte vonnisse ook te kry en moet verbied word om ooit weer honde te besit.

Theresa ·

10 uit 10 vir die polisie. Maar ja – ek stem nie vir ‘n boete nie. Hierdie gemors wat hulle besig hou met hondegevegte betaal enige boete met ‘n smile. Swaarder strawwe moet beslis ingestel word. O ja – en ‘n paar klappe sal ook dit afrond!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.