Twee verdagtes dood ná skermutseling met polisie

Van die gereedskap wat die Valke op die toneel in Montrose, Pietermaritzburg gevind het (Foto: Valke)

Van die gereedskap wat die Valke op die toneel in Montrose, Pietermaritzburg gevind het (Foto: Valke)

Twee verdagtes is Saterdagoggend dood tydens ʼn skietery met die polisie in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal.

“Lede van die Valke het inligting opgevolg oor verdagtes wat betrokke was by huisbrake en diefstal van motorvoertuie in die gebied,” het lt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die Valke, gesê. “Lede van die Valke het ʼn verdagte motorvoertuig in Montrose opgemerk en nadat hulle die motor gevolg het, het hulle ʼn verdagte in ʼn betrokke motor gevind. Die ander verdagtes, wat in ʼn wegkomvoertuig gesit en wag het, het op die polisie begin skiet.”

Volgens Mhlongo het die beamptes teruggeskiet en twee van die verdagtes is noodlottig gewond. “Twee verdagtes is beseer en onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem,” het hy bygevoeg.

Die Valke het beslag gelê op motordiefstal-implemente en ongelisensieerde vuurwapens. Die beamptes het ook twaalf rekenaarbokse vir verskeie motors, een sein-steurtoestel, een polisieradio, ʼn koevoet en drie 9 mm-pistole met skerp ammunisie gevind.

Die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat was op die toneel en doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

“Die verdagtes wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die Pietermaritzburg-landdroshof verskyn,” het Mhlongo bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gavin ·

Baie dankie aan die betrokke polisie lede wat die gemors van die strate verwyder het en mense se lewens gespaar het

Maria ·

Wel gedaan Valke en SAPS. Dis al hoe ons SA gaan veilig kry.

Tiger ·

Ek kan die Valke ook net geluk wens met hul suksesvolle optrede teen MISDADIGERS ( en nie verdagtes nie!!)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.