Twee verdagtes tydens mislukte kapingspoging geskiet

'n Foto van die toneel: Foto: Crime Wall / Facebook

‘n Foto van die toneel: Foto: Crime Wall / Facebook

Twee verdagtes is Woensdag geskiet en gewond nadat hulle glo ʼn afleweringswa vol selfone in Rooihuiskraal in Centurion wou kaap.

Hannes du Buisson, voorsitter van die Wierdabrug Sektor 3-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het aan Maroela Media gesê ʼn RAM-afleweringswa was glo op pad na die Mall@Reds-winkelsentrum toe ʼn wit bakkie met drie insittendes die afleweringswa by ʼn kruising wou voorkeer.

“Die bestuurder van die afleweringswa het oor die middelmannetjie gery en het teen ʼn aankomende voertuig gebots,” het Du Buisson gesê.

Twee verdagtes het uit die bakkie gespring en na die afleweringswa gehardloop. “Daar was ʼn begeleidingsvoertuig saam met die afleweringswa, maar dié het weens verkeer agter geraak. Toe die begeleidingsvoertuig op die toneel kom, het die veiligheidswagte uitgespring en die kapers het op hulle losgebrand,” het Du Buisson bygevoeg. “Die wagte het teruggeskiet en twee verdagtes gewond. Die derde verdagte het tydens die skietery met die bakkie weggejaag.”

Paramedici van Netcare 911 is na die toneel ontbied. Een van die verdagtes is in die arm en been getref en die ander in sy skouer. Hulle is op die toneel behandel, en na ʼn hospitaal geneem waar hulle onder polisiebewaking aangehou word.

Die bestuurder van die afleweringswa is ongedeerd.

Die Wierdabrug-polisiestasie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Blikkies ·

Die gemors word seker onder polisiebewaking aangehou en nie polisiebewaring nie.

Wel, ek wil sê, skote petoors aan die veiligheidswagte, net jammer hulle is nie almal bokveld toe nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.