Twee verdagtes tydens skietgeveg doodgeskiet

Argieffoto (StevePB, Pixabay)

Twee verdagtes en ʼn omstander is Woensdagaand in ʼn skietgeveg met die polisie in die KwaMdakane-gebied naby Dannhauser in KwaZulu-Natal doodgeskiet.

Die polisie het in ʼn verklaring gesê beamptes het omstreeks 21:30 gereageer op berigte dat ʼn kitsbank by ʼn winkelsentrum in Madadeni opgeblaas is. Daar het ʼn skietgeveg tussen die polisie en die verdagtes ontstaan, waarna die verdagtes daarin kon slaag om te vlug.

Polisiebeamptes het die verdagtes agternagesit terwyl hulle versterking van naburige polisiestasies en ander eenhede ontbied het.

Toe beamptes probeer het om die verdagtes se wegkomvoertuig op Utrechtweg voor te keer, het die verdagtes weer op die polisie losgebrand. Daarna het hulle in die KwaMdakane-nedersetting ingejaag.

“Soos beamptes die nedersetting genader het, het die skote geklap. Die polisie het teruggeskiet en tydens die skietgeveg is twee verdagtes doodgeskiet,” lui die verklaring.

Drie omstanders is ook tydens die skietgeveg gewond en een van hulle het later in die hospitaal gesterf.

“Drie vuurwapens, ʼn R5-geweer, ʼn AK47 en ʼn pistool is op die toneel gevind. Sake van gewapende roof, moord, poging tot moord en besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie word ondersoek.”

Volgens die verklaring word daar steeds gesoek na die ander verdagtes wat daarin kon slaag om tydens die skietery te ontsnap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

willie ·

Weereens weermag/polisie kaliber wapens, maar ons wetige wapen eienaars moet ontwapen word! Wat sê dit vir enige regdenkende mens? Sê eerder niks meer nie!

ferdi ·

Ek ondersteun B Cele di polisie moet hulle jag en doodskiet haal hul uit di gemeenskap ek self polisieman en gatvol vi di spul gemors wat dink hul ka doen soos hul wil

Sarel swartbrand ·

Kan iemand vir my sê hoekom die polisie so goed is in Kwazulu natal maar in die res van die land is hulle verby pateties het hulle beter leierskap,kry hulle beter opleiding?

Deon ·

Ons polisie in Bethal is verseker nie pateties nie,ek dink jou opmerking is.

Jannie ·

Ek dink dis omdat daar nie ń Sarel Swartgal is wat alewig fout soek nie.

Michael ·

O genade dit is oorlog in ons land Ek stem saam Willie waar kom die R 5’s Ak’47 ‘s vandaan???? wat is volgende. Nerens veilig in die land nie My vraag is hoe gaan ons dit reg maak??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.