Twee verdrink, een vermis ná huisboot brand

Die huisboot het Saterdag aan die brand geslaan. (Foto: Bathabile Ndawo/Facebook)

Twee mense het Saterdag in die Jozini-dam in KwaZulu-Natal verdrink nadat ʼn huisboot aan die brand geslaan het en hulle noodgedwonge oorboord moes spring. ʼn Derde persoon word steeds vermis.

Die oorledenes, ʼn buitelander en een van die bemanningslede, was glo deel van ʼn groep van nege mense wat die dag op die luukse huisboot Shayamanzi I deurgebring het.

Kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het Maandag aan Maroela Media gesê die boot het omstreeks 16:30 in vlamme opgegaan waarna die passasiers en bemanning genoop was om oorboord te spring.

“Almal het in die water gespring, maar ongelukkig het twee mense verdrink.”

Reddingsdienste het die oorledenes se lyke kort daarna uit die dam gehaal.

Alex Mirschel, ʼn inwoner van Duitsland en passasier op die boot, het op Facebook gesê sy pa was een van dié wat verdrink het.

“Ek was deel van die groep wat op die boot was en as gevolg van die ongeluk het ons ook ons pa verloor. Ons het alles verder ook verloor – ons sleutels, paspoorte, bankkaarte, kontant, selfone en klere.”

Hy het ook erken dat hulle gesukkel het om kop bo water te hou weens die onstuimige waters.

Mirschel het gesê sy gesin is tans besig om sy pa se liggaam terug in Duitsland te kry.

Volgens Gwala is polisiebeamptes van die Empangeni soek-en-reddingspan steeds na die vermiste persoon op soek. Dit word vermoed dat dié persoon ook verdrink het.

Die bestuur van die Shayamanzi-huisbote het in ʼn Facebook-plasing hul meegevoel met die familie en vriende van die oorledenes betuig.

“As ʼn gevestigde familiebesigheid is ons platgeslaan oor die gebeure die afgelope naweek en doen ons alles moontlik om met die ondersoek te help en die impak wat dit op ons gaste, bemanning en hul families gehad het, te verstaan.

“Ons gedagtes en gebede is by almal en ons treur saam met julle.’”

Volgens Gwala is die oorsaak van die brand nog nie bekend nie.

Forensiese ondersoekers is op die toneel en ondersoek die saak verder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Perdeby ·

Dalk het die brand so vinning versprei dat hulle nie anders kon as om te spring nie. Dit sou me selfde reaksie gewees het.

Sandra ·

Daar was duidelik nie veiligheidsmaatreels in plek nie. Hoekom het hulle nie brandblussers gebruik om die vuur onder bedwang te bring nie? Hoekom moes daar mense verdrink? Is dit omdat daar nie reddingsbaadjies aan boord was nie?

Annelize ·

Geldige vrae, ek het self gewonder oor die veiligheidsbaadjies, maar ongelukkig kan jy ‘n brandblusser so groot soos die boot homself aan boord he, ‘n brand versprei partykeer so vinnig, dat jy geen kans staan om enigiets te doen nie.

Lubbe ·

Dit is ‘n “house boat”. Mens sit nie heeldag op die boot met jou reddings baadjie aan nie. ‘n Vuur versprei binne sekondes soms, so voor ons klippe gooi moet ons dalk net eers die feite kry.

SjN ·

Gewoonlik staan die beste stuurlui aan wal, kry eers die feite voor kommentaar gelewer word, wind en vuur is nie n man se maat nie, met die sterk wind en hoe hitte sal enige voorsorg maatreels onvoldoende wees. Sterkte aan die wat omgekom het se geliefdes .

Elmarie ·

En ruk gelede na ek in reisafdeling in Maroela van die boot/firma gelees het was dit op my emmerskoplysie (as mý skip eendag kom!) maar nou ja, nie méér nie

Chris dupreez ·

Dis slegte nuus. Daardie is pragtige en baie veilige bote. Wonder wat het verkeerd gegaan

Gerhard ·

EK sal ook graag wil weet wat gebeur het. Hopelik sit MM n berig op na die ondersoek as daar een is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.