Twee verdrink op laaste vakansiedag by Hermanus

Hermanus Foto: hermanussouthafrica.com

Hermanus Foto: hermanussouthafrica.com

Twee persone van Robertson in die Wes-Kaap het Sondag by Hawston-strand in Hermanus verdrink, het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) gesê.

“Die span van NSRI Hermanus is omstreeks 15:00 ontbied nadat ʼn man en tienerdogter deur ʼn systroom meegesleur is,” het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, in ʼn verklaring gesê.

Paramedici het reeds met KPR begin op die 41-jarige man nadat lewensredders hom uit die see gehaal het.

Die NSRI het ʼn seereddingsvaartuig geloods op soek na die 17-jarige meisie, wat vermoedelik ʼn broerskind van die man is. Die NSRI het haar liggaam opgespoor en paramedici het haar op die toneel dood verklaar.

“Die 41-jarige man is ook, ondanks talle pogings om hom by te bring, dood verklaar,” het Lambinon bygevoeg.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Die twee gesinne was glo saam met vakansie by Hermanus. Dit was hulle laaste dag van die vakansie en hulle het almal saam gaan swem net voordat hulle na Robertson sou terugkeer. Die familie ontvang berading.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.