Twee verkeersbeamptes is in Upington in die Noord-Kaap in hegtenis geneem vir beweerde korrupsie.
Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, sê die verkeersbeamptes het ʼn motoris wat die spoedgrens oortree het van die pad af getrek en hom beveel om omkoopgeld van R1 000 te betaal. “Die man het glo aan die beamptes verduidelik dat hy gejaag het aangesien sy vrou in kraam was by die Upington-hospitaal.” Die beamptes het die man laat gaan op voorwaarde dat hy met sy terugkeer die R1 000 aan hulle sal betaal. Die man het die voorval aan die Valke gerapporteer en die verkeersbeamptes is in hegtenis geneem nadat hulle die R1 000 van die man gevat het. Ramaloko sê die twee verdagtes sal Maandag in die Upington-landdroshof verskyn.