ʼn Veiligheidswag is beseer en twee verdagtes, van wie een geskiet is, is in hegtenis geneem ná ʼn transitorooftog naby Forestrylaan in Eersterivier in Kaapstad.
ʼn Groep gewapende mans het Saterdagmiddag omstreeks 15:00 toegeslaan op ʼn kontant-in-transitovoertuig. Die bestuurder is in die been gewond, het brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, Sondag gesê.
“Hulle het die twee veiligheidswagte oorrompel en hul vuurwapens gesteel. Hulle het daarna die agterdeur van die voertuig oopgeblaas en met ʼn onbekende bedrag kontant gevlug.”
ʼn Polisiebeampte, wat nie aan diens was nie, het die voorval aanskou en hulp ontbied. ʼn Polisiekaptein saam met sy span van Blue Downs het op die voorval reageer. “Daar was ʼn skietery tussen die polisiebeamptes en die verdagtes. Van die verdagtes het te voet gevlug en ander in voertuie. Polisiebeamptes het twee verdagtes, onderskeidelik 34 en 47 jaar oud, in hegtenis geneem. Die 34-jarige verdagte is in die bolyf geskiet.”
Die beamptes het ook ʼn aanvalsgeweer en ʼn pistool, waarvan die reeksnommers verwyder is, in die veld gevind waardeur die verdagtes gevlug het. Die span het ook drie voertuie in ʼn nabygeleë begraafplaas gevind. Dit was ʼn Mercedes Benz wat as gesteel aangemeld is, ʼn Hyundai Tucson en ʼn Ford Fiesta. Die Ford Fiesta en Hyundai word nog ondersoek om te bepaal aan wie die motors behoort. Die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) stel verder ondersoek in, het Naidoo bevestig.
Lt.genl. John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het beveel dat ʼn 72-uur-aktiveringsplan gemobiliseer word. Dit beteken dat verskeie eenhede van die polisie en hulpbronne, insluitend lede van misdaadintelligensie, forensiese kenners, speurders en ander eenhede by die ondersoek betrokke sal wees.
Sitole het die ooggetuie en lede van Blue Downs geloof vir hul vinnige optrede.
Hoe neem hulle die wagte se wapens af.
Ai-jai-jai ………